Barrett en McKenzie in sop oor Instagram-foto’s

Beauden Barret besig om vonkelwyn te skink. Foto: www.stuff.co.nz.

Wanneer hulle nie seepglad tussen verdedigers se vingers deur glip of wenstrafskoppe in die laaste minuut deur die pale klits nie, word elke aksie, foto en sosialemediaplasing van sportsterre met ’n vergrootglas dopgehou.

Dié les het die All Black-supersterre Beauden Barrett en Damian McKenzie onlangs opnuut geleer toe daar opdrag gegee is dat foto’s waar hulle sjampanje skink van verskeie Instagram-profiele verwyder moet word ná ʼn klag aan die advertensie-owerhede.

Die nuuswebwerf Stuff berig Barrett en McKenzie het aan ’n sjampanje-skinkkompetisie deelgeneem om die ASB Klassieke Tennistoernooi te bemark. Moët Hennessy het as die borg van die toernooi opgetree.

Die duo was saam met die Spaanse tennisspeler Pablo Carreno Busta agter die sjampanje-glase in aksie terwyl die kameras geflits het en die foto’s is op verskeie Instagram-rekeninge geplaas.

Tog het die direkteur van Alcohol Healthwatch, Nicki Jackson, aanstoot geneem en ’n stokkie voor die twee se Instagram-pret gesteek.

“Die Instagram-foto’s wys die helde van jong kinders, sowel as produkte wat aangewend word vir die verkoop en verbruik van alkohol. Beauden Barrett en Damian McKenzie – as hoëprofiellede van die All Blacks – word gereken as rolmodelle vir die jeug.”

Jackson het verder aangevoer volgens Nieu-Seelandse advertensie-regulasies moet persone wat alkohol in reklame-veldtogte adverteer, 25 jaar en ouer moet wees. McKenzie vier sy 24ste verjaardag in April.

Intussen het Tennis Auckland (die liggaam wat die toernooi aanbied) en Moët Hennessy aan die Nieu-Seelandse advertensie-buro, die Advertising Standards Authority (ASA), gesê dat alle Instagram-plasings verwyder is. Dan is verdere stappe gedoen om toe te sien dat daar nie ’n herhaling van dié blaps sal plaasvind nie: Samesprekings is met die toernooi se organiseerders en die bestuurspan van Barrett en McKenzie gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johann cb ·

Verdien hierdie sporthelde nie genoeg geld uit hulle onderskeie sportsoorte nie?

Wesley ·

Dis die prys om in n progresiewe liberale staat te leef. Die wette baie streng , tot op die kleinste “onbenullige” sake.

Stephen Namibia ·

My word Nicki Jackson. Stay calm, put a clean nappy on and pour yourself a double Bells!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.