Legendariese rugbyman gedenk

Joe Venter (Foto: Cheetahs)

Die begrafnisdiens van die legendariese rugbyskrywer Joe Venter het Woensdag in Bloemfontein plaasgevind. Venter is onlangs ná ʼn lang siekbed dood.

Hy was 60 jaar lank ʼn joernalis en is ʼn dag voor sy 84ste verjaardag oorlede nadat hy sowat drie maande gelede hart- en longprobleme ontwikkel het.

Daar was ʼn hele aantal sportpersoonlikhede van verskillende sportsoorte by die diens teenwoordig, onder meer ʼn aantal Vrystaatse rugbyspelers uit verskillende dekades soos die Springbokbreker van die 1970’s, Joggie Jansen, en Basie Verster wat in die 1960’s en 1970’s die Vrystaat in meer as 40 wedstryde verteenwoordig en ook diep spore in die Cheetahs se rugbybestuur getrap het.

Venter was sedert hy jare gelede as Rapport-man Bloemfontein toe verhuis het ʼn vurige Vrystaat- en later Cheetah-ondersteuner, maar het by geleentheid vertel hy glo hy het in sy Randse dae in 1965 die Oos-Transvalers Boet Mulder en Kerneels Cronjé in die Springbokspan na Nieu-Seeland ingeskryf.

Harold Verster (besturende direkteur) en Lindsay Mould (president) sê op die Cheetahs se webwerf Venter het ʼn ewige jonkheid saam met hom gedra en ʼn positiewe ingesteldheid teenoor die lewe geopenbaar.

“Joe het voorwaar diep spore in Vrystaat Rugby getrap, en mooi herinneringe vir ons almal nagelaat. Hy was ʼn opregte Vrystaat Cheetah-ondersteuner wat met mooi lewensbeskouinge en standaarde ook dit uitgeleef het by die rugbywedstryde.”

Benewens rugby het Venter veral ook oor gholf berig. Hy het tot kort voor sy dood nog bydraes vir Volksblad geskryf.

Venter was ʼn stigterslid van die Randse Sportskrywersvereniging (hy was destyds by Die Vaderland en Die Transvaler) en het ʼn leidende rol in dié organisasie gespeel, later ook in die vereniging se Vrystaatse eweknie, waarvan hy jare lank die voorsitter was.

Venter, wat as ʼn joviale, immer glimlaggende en lojale mens bestempel word, was ook bedrewe op die kitaar en mondfluitjie, en het onder meer ʼn opname saam met die komediant Nico Nel gemaak. Hy het in sy jong dae in die Transvaalse Jeugkoor gesing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.