Bekgeveg byna net so groot soos Aussies se oorwinning!

Aiden Markram en Quinton de Kock. Foto: ICC

Australië het vroeg op dag vyf die Eerste Toets in Durban met 118 lopies beklink. Hul oorwinning is egter in die skadu gestel deur ʼn mondelingse onderonsie wat tussen David Warner en Quinton de Kock plaasgevind het.

Volgens nuusbronne word daar gewag vir terugvoer van die Internasionale Krieketraad nadat ʼn video aan die wedstryd-skeidsregter beskikbaar gestel is wat die insident uitwys. Dit is Sondag op dag vier van die toets met die afstap tydens teetyd geneem.

In die video kan daar gesien word hoe Warner vir De Kock met ʼn golf van woorde toesnou terwyl Warner se spanmaats, Usman Khawaja en Nathan Lyon, tussenbeide tree en hom weglei. De Kock was in daardie stadium die nie-uit-nie-kolwer vir Suid-Afrika.

Intussen het die Aussies se kaptein, Steve Smith, ná die wedstryd die skuld op De Kock gepak. Smith het gesê De Kock was die skuldige een wat op die veld aan Warner ʼn persoonlike afjak toegesnou het.

Die Proteas se spanbestuurder, Mohammed Moosajee, het gesê dis jammer dat die insident plaasgevind het, want dis heeltemal teen die gees van die spel. Hy het ook genoem dat die wedstryd-skeidsregter wel ná die dag se spel met hulle daaroor gepraat het. Krieket Australië het ook aangedui dat hulle bewus is van die gebeure.

Vier van Suid-Afrika se topkolwers kon net enkelsyfers in Suid-Afrika se tweede beurt aanteken. (Elgar 9, Amla 8, de Villiers 0 en du Plessis 4.)

Suid-Afrika was die taak gestel om 417 lopies vir ʼn oorwinning aan te teken wat die tweede hoogste in die geskiedenis van ʼn vierde beurt sou wees. Dit is nadat die Aussies vroeër vir 227 lopies in hul tweede beurt uitgeboul is.

Aiden Markram was die groot ligpunt in die Proteas se tweede beurt en het ʼn briljante 143 lopies gemoker. Teen uitskeityd Sondag was Suid-Afrika op 293/9 na 89 boulbeurte. Dit was nog 124 lopies kort van ʼn oorwinning met net 1 paaltjie staande.

Spel was Maandag gou verby toe De Kock vir 83 uitgehaal is met die totaal op 298. Australië wen met 118 lopies terwyl Mitchell Starc as speler van die wedstryd aangewys is.

Die tweede toets begin Vrydag om 10:00 op St George’s Park in Port Elizabeth.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Paul ·

Van wat ek verstaan het De Kock Warner iets oor Warner se vrou beduie. Gaan lees gerus op die internet. Swak Piketberg, swak De Kock, dat mens so laag kan daal. Dan sien ek mense beduie dat Warner gaan nog vorentoe deur die SA spanook dit voor die kop gehou word , dis nou om hom te ontsenu. Swak Piketberg, swak Proteas.

Rupert Ashford ·

Paul, jy moet onthou hierdie is die Aussies se manier om in bekgevegte betrokke te raak. Hulle het voor die reeks gese hulle gaan oa ook vir Rabada teiken. Hierdie saak het twee kante. Let wel ek keur noe noodwendig die SA span se gedrag goed hierin nie maar die Aussies (veral nie Warner en Lyon nie) het verseker nie gesit en Bybel lees en is toe onskuldig geteiken nie.

Paul ·

Ek het geen probleem met die normale bekgevegte nie, net solank jy nie die man se vrou so betrek nie, ek dink dit was laag en gemeen. dit is waar die argument stop. Geen verskoning nie, mens luister nie eens daarna nie.

Ek dink nou ook aan ‘n Aussie tennisspeler wat tyd gelede aan sy opponent beduie het dat ‘n ander speler het by sy miesie geslaap, dit was nie eens die waarheid nie, maar is gesê om die ander een af te sit, in sy kop te klim. Dit het niks, maar niks met die spel te make nie. Spelers wat sulke goed kwytraak, moet lewenslank geskors word.

My werklike gevoel is, dat dit ‘n onding is, die TRADISIE van bekgevegte in krieket. Bekgevegte hoort nie in enige sport nie, professioneel of te not. Waarom moet daar gedurig bv vuil wasgoed van ‘n opponent gewas word? Dit is soos kindertjies wat nie groot word nie.

Innie Weegskaal ·

Suid Afrika is Geweeg en te lig bevind. As dit waar is dat een van ons mense persoonlike opmerkings teenoor die ander span se speler of spelers gemaak het sal ek voorstel dat daar streng teen sulke swak sportsmanne opgetree word. Ek dink swak sportsmangees getuig baie van so n persoon se karakter.

DHK ·

Dis hoog tyd dat almal besef dat Suid-Afrikaanse spanne baie lankal nie meer die morele hoëgrond beset rakende sportiewe optrede nie. Beslis is die Proteas ook nie nederige, Bybellesende ou engeltjies nie….

Aus ·

Trots op my Aussies, Saffa jak persoonlike goed af, en wil niks terug hoor nie. Markram het duidelik gese die Aussies het nie oor die lyn gegaan met hul sledging nie, vir Faf om nou die storie te verander is belaglik. Swak Proteas, swak de Kock. Fokus eerder om ons n go te gee in toets krieket. 118lopies LOL.

Joe Hall ·

Hoekom loop LOL jy nie doer onder saam met jou(?) ossie pel nie?

Aus ·

Glo my ons doen! en nou dat proteas steyn in die 3rde toets wil terug bring nóg meer LOL. 8overs in en dan gaan porselein weer breuk.

Joe Hall ·

Wil jy so tussen julle ge-LOLlery deur verneem of al die ander ossies ook hulle vrouens saam gebring het, soos wat ‘Davey baby’ doen?
Waarom sou hulle so skrikkerig wees om die arme vrouens alleen in ossie agter te laat?
:-)))

Dries ·

‘n Saak het 2 kante, indien die ouens mekaar so bietjie terg is dit nie ‘n probleem nie ,aan die een kant om jouself op te ruk oor die geringste bietjie terg is nie reg nie, maar dit beteken nie aan die ander kant dis maar reg om verkleinerende en persoonlikke opmerkings teenoor oponente te maaak nie. Indien dit waar is dat daar neerhalend opmerkings oor Warner se vrou gemaak is , dan is dit swak. Ek sal ook ongelukkig wees as iemand persoonlik oor my familie raak.

bloues ·

Vir my wil dit voorkom dat bogendoemde kommentators geen idee het wat op ‘n krieketveld gebeur nie. Was dit teen Engeland of Aussies wat hul paaltjie wagter op n tyd vir die Protea kolwer gesê het dat as hy minder by verskillende vrouens slaap, sal sy kolwerk verbeter. Die Protea kolwer het rustig terug geantwoord ” Jou ma stuur groete”
Dit gebeur nog altyd en sal altyd gebeur. Solank dit nie rassisties is nie, word dit aanvaar.

Net ·

Gaan lees maar weer pel, enige iets persoonliks word nie geduld nie, maak nie saak of die spelers dit aanvaar nie, dis n breach van die ICC se reels. Eenvoudig, de Kock is nog nie eens 30% wat Warner is nie, hy moet bykom.

protea fire ·

aan al die ou klae kouse die proteas gaan die aussies afslag..ou warner en die hele lot..

RB ·

Die probleem is dat die Aussies bekend is vir hul uitlatings, maar moenie iets terug sê nie, dan doen jy iets verkeerd. As ‘n SA’ner op kamera gevang is so tekere gaan, was daar groot gevolge, kyk maar na al Rabada se strawwe…kom ons sien wat gebeur met Warner. Waarskynlik nie veel nie.

LB ·

RB duidelik is jy net gekant teen die Aussies, Rabada het dit verdien, Saffa op kamera gevang, behalwe al die ball tampering? Markram n Saffa het herken daar’s niks oor die lyn gese van Oz nie, nou gaan ou kleinman de kock en raak persoonlik, en nou moan die saffas alwéér. Faf verander nou stories om in blaam te verander.

bloues ·

Net. Jy is reg, dit is wat die reels sê. Dit word egter nie nagekom nie en hierdie relletjie tussen de Kock en Warner is maar net die begin. In krieket werk dit so, die Proteas het gesien dit is vir Warner ‘n teer puntjie en daarom sal sy vrou in die res van die toetse kort kort ter sprake wees.(Ook van die paviljoen af)Dit is hoe dit werk. Was , is en sal altyd so werk deur ALLE spanne. Dit is deel van krieket presies soos ‘n hand in die losgemaal deel sal wees van rugby. Teen die reels maar dit sal gedoen word.

Net ·

Ek stem saam dat dit gaan gebeur, dis net elke keer moan die Saffas, maar Markram wat meerderheid op die veld was het gese niks oor die lyn is gese van die Oz se kant nie. De Kock het nog altyd n humeur, hy’t die vorige keer gehuil by die ICC omdat iemand sy ma en sister opgebring het, so nou kan oz hulle heeltyd opbring opdat dit n seerpunt is, sonder dat hy weer gaan huil?

Dries ·

Berigte wat nou deurkom is dat die Aussies na de Kock se ma en suster verwys het. Persoonlikke beledigings , ek bedoel nie ‘n gesiel uittrekkery nie, is onanvaarbaar, maak nie saak van watter kant dit kom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.