Binder-broers maak opslae, al ontwyk die podium hulle

Miguel Oliveira (KTM), Jack Miller (Ducati) en Pol Espargaró (KTM) vier hulle oorwinning. (Foto: MotoGP)

In MotoGP moet jy nie gaan koffie maak terwyl die wedren nog nie verby is nie.

Sondag in die Steiermarkse Grand Prix in Spielberg, Oostenryk, het die 25-jarige Portugees Miguel Oliveira (KTM) sy eerste oorwinning behaal en ook die eerste Portugese wenner in MotoGP geword, met die Australiër Jack Miller (Ducati) tweede en Pool Espargaró (KTM) derde.

Suid-Afrika se Brad Binder, wat 13de weggespring het en in ʼn stadium opgeskuif het na die vyfde plek, het kort voor die einde van die baan gejaag, wat sy drome om dié wedren te wen beëindig het. Binder het agtste geëindig, maar steeds groot indruk gemaak.

Hoekom lewer vanjaar se MotoGP soveel opwinding?

Omdat daar reeds vier verskillende jaers, insluitende Binder, in vyf wedrenne op die podium gestaan het.

Sondag het Espargaró en Miller kop aan kop in die tiende en laaste draai van die laaste rondte sake om die eerste plek uitgespook. Maar in hul oorywerigheid het Oliveira hulle aan die binnekant verbygesteek om te wen.

Die resies is in die 16de rondte gestop toe Maverick Vinales se remme teen sowat 200 km/h onklaar geraak het. Hy het baie dapper afgespring, geval en verskeie kere bollemakiesie geslaan terwyl sy fiets in ʼn lugkussing vasgejaag het.

* In die Moto3-wedren het Brad Binder se jonger broer, Darryn, sesde geëindig.

Sjoe, watter vreugde moes daar nie in die Binder-huishouding in Krugersdorp gewees het nie, al het Brad later agtste klaargemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae