Blitsbokke bo, Bokke feitlik onder op 2017 se ‘ranglys’

Cecil Afrika (Foto laureus.com)

Nuwejaarsdag is die dag waarop al die mooi ondernemings en verwagtinge vir die komende jaar begin, net om maar mettertyd te vervaag en te verdwyn.

Hoe gaan dit in 2018 vir Suid-Afrikaanse sport wees?

Kom ons kyk vlugtig na die jaar wat verby is, en van ʼn paar ligpunte maar vele laagtepunte, en ʼn paar wanopvattings.

♦  Een daarvan is die verkondiging dat Suid-Afrika ʼn sportmal land is.

Regtig?

Kyk maar wat gaan by ons rugby- en krieketstadia aan; na die kwynende toeskouersgetalle by hierdie sportsoorte, die voortgesette en karige ondersteuning van hokkie en atletiek deur toeskouers, die afname van toeskouergetalle by sokker as jy die groot wedstryde nie in aanmerking neem nie …

Sportsoorte se rangorde

Kom ons kyk, in rangorde van sukses en/of prestasie, na al ons groot sportsoorte, en ʼn paar van die kleiner uitskieters, se vertonings deur 2017 en wat moontlik in 2018 verwag kan word.

Sewesrugby

Dit Blitsbokke is verreweg Suid-Afrika se beste as daar na spansport gekyk word. Hulle het in die 2016/’17-seisoen van Wêreldrugby se sewesreeks die reekstitel gewen, vyf van die tien toernooie gewen en was nog drie keer in die eindstryd – en staan tans stewig ná twee toernooie in die nuwe reeks wat in 2018 voortgesit word.

Fiksheid, beplanning, goeie spankeuses en ʼn goeie afrigter in Neil Powell – met puik assistente en ʼn ondersteuningspan wat hul werk behoorlik doen.

Vanjaar sal hulle benewens die sewesreeks ook jag maak op die Statebondstitel en die Wêreldkampioenskap, met ʼn goeie kans om albei te wen.

Atletiek

Tant Ans Botha, afrigter van onder meer die Olimpiese en Wêreldkampioen in die 400 m Wayde van Niekerk, is aangewys as wêreldatletiek se afrigter van die jaar. Van Niekerk was een van die drie atlete van die jaar; en Caster Semenya moes ook onder die drie beste vroue getel het.

Wayde van Niekerk (Facebook IAAF World Athletics Club).jpg

Die atlete het in 2017 by die IAAF se Wêreldkampioenskappe met drie goue, een silwer en twee brons medaljes die derde beste na die VSA en Kenia gevaar. Hulle het groot atletieklande soos Brittanje, Australië en Duitsland uitgestof.

Van Niekerk (400 m), Semenya (800 m) en die verspringver Luvo Manyonga het goud gewen, Ruswahl Samaai (verspring) brons. Van Niekerk het ook in die 200 m silwer en Semenya in die 1500 m brons gewen.

Daar was nog ʼn hele paar atlete wat op die Diamantliga se byeenkomste ook die oog gevang het.

Netbal 

Die netbalvroue het in 2017 van krag tot krag gegaan. Hulle het in September in die tweede vierhoekige reeks die eerste keer in vier jaar met Engeland afgereken, met net ses doele teen die Wêreldkampioen Australië verloor en met sewe doele teen Nieu-Seeland.

Laasgenoemde twee uitslae is die beste in meer as vier dekades – en dít in ʼn beroepsera waar Suid-Afrika elke jaar talle spelers verloor omdat hulle nie betaal word nie en net vir die liefde vir die spel deelneem.

Die 2018-vierhoekige reeks teen genoemde drie lande begin op 20 Januarie in Londen.

Fidji, een van die voorste lande ter wêreld, is ook in 2017 met 2-0 in ʼn toetsreeks geklop

Anders as by SA Rugby is die beplanning vir 2018 reeds gereed, die fiksheid- en kondisioneringvlakke is op peil en daar is die bonus dat ʼn toenemende aantal Suid-Afrikaanse spelers ook nou in Engeland, Nieu-Seeland en Australië beroepsnetbal teen van die wêreld se bestes speel en só ingeskerp word.

Gholf

Weer geen Major in 2017 deur ʼn Suid-Afrikaner nie … Ernie Els, wat in 2012 die Britse Ope gewen het, is die laaste wat dit kon vermag.

Ondanks hoofsaaklik wisselvallige vertonings deur Suid-Afrika se voorste spelers was daar nietemin ʼn paar hoogtepunte.

Branden Grace. Foto: AP Photo/Stephen B. Morton

Branden Grace het die eerste speler in die geskiedenis geword wat na 157 jaar in die 412de Major-gholftoernooi ʼn ronde van 62 houe gespeel het.

Dit was weliswaar op ʼn syfer 70-baan, maar dit is nogtans ʼn prestasie wat nie een van die grotes deur 157 jaar se Grand Slams op syfer 70- of -72-bane kon regkry nie.

Grace het ook die eerste Suid-Afrikaner geword wat die afgelope tien jaar die titel in Sun City-toernooi kon wen. Hy het ook goed in die Presidentebeker-toernooi teen die VSA gespeel.

Louis Oosthuizen, Grace, Charl Schwartzel en selfs Dylan Frittelli wat in die tweede helfte van die jaar sy belofte as jong speler begin gestand doen het, en ook ʼn hele paar ander kan dalk, net dálk, in 2018 ʼn grote aftrek.

Oosthuizen (22ste), Grace (30ste), Schwartzel (32ste) Brenden Steele (45ste) Frittelli (55ste) kan almal met die wêreld se bestes saamgesels.

Krieket

Die Proteas is in Engeland hard aarde toe gebring nadat dit teen die Aussies en Nieu-Seeland, onderskeidelik aan die einde van 2016 en vroeg in 2017, gelyk het of hulle op koers is om ʼn buitengewone span te word.

Maar toe stotter Faf du Plessis-hulle teen Engeland waar hulle in die toetsreeks (1-3) én in die eendaagse reeks (1-2) deeglik geklop is, en tussendeur die eendagreeks na teleurstellende vertonings in die IKK se Kampioenetoernooi in die groepronde uitgeskakel is.

Bangladesj is in Suid-Afrika kafgedraf, maar dit tel feitlik nie.

In 2018 kry die Proteas (tweede) die kans om na die eerste plek op die toetsranglys op te skuif wanneer hulle in Januarie in Suid-Afrika drie toetse teen die eerste span op die ranglys, Indië, te staan kom, en ook tuis teen Australië, tans sesde, speel.

Australië sal ongetwyfeld na die As-oorwinning teen Engeland opskuif en die Proteas dwing om hul beste voetjie voor te sit.

Die Proteas is eerste op die eendaagse lys met Indië tweede en die Aussies derde.

Swem

Chad le Clos het die eerste swemmer geword wat die Wêreldbekerreeks die vierde keer kon wen en Cameron van der Burgh, ʼn vorige driemalige wenner van hierdie reeks, het ook ʼn paar keer op die podium gestaan.

Chad le Clos. Foto: AP Photo/Michael Sohn

Maar dit was net hierdie twee swemmers wat hond haaraf gemaak het.  Anders as by atletiek, is daar nie veel op die swemhorison om in 2018 op staat te maak nie.

Tennis

Tennis in Suid-Afrika bly hoofsaaklik ʼn sukkelsport, maar daar is effense lig in die tonnel na ʼn goeie 2017.

Die Davisbekerspan het hulle doelwit behaal en is na die Euro/Afrika-sone bevorder nadat hulle vanjaar al drie kragmetings gewen het.

Die sukses is te danke aan goeie organisasie en beplanning onder die uitvoerende hoof Richard Glover en aan Marcus Ondruska die man (uiteindelik!) is wat as afrigter die wil en doelwit het om van sy pos ʼn sukses te maak.

Kevin Anderson het vanjaar die Amerikaanse Ope se finaal gehaal waar hy deur Rafael Nadal geklop is, en kan in 2018 veral op die grasbane (insluitende Wimbledon) ʼn moeilike kalant wees.

Fietsry

Louis Meintjies het vanjaar, soos in 2016, agste in die Tour de France geëindig, en kan met die geluk wat hierdie toernooi verg, in 2018 onder die voorste vyf eindig.

Rugby

Die rugby in 2017 was meer as ʼn teleurstelling. Dit was ʼn frustrerende fiasko – vanaf die lamsakkige beheerliggaam SA Rugby, tot die afrigter Allister Coetzee.

Deur hierdie twee nie-funksionerende ‘vennote’ se toedoen het die mismoedigheid ook op die nasionale spelers, ondersteuners en die res van die spelerskorps in Suid-Afrika neergedaal.

Die heel laagste punt is Coetzee se stiksienigheid dat hy opgewasse is en weier om pad te gee.

Nog ʼn laagtepunt is dat ʼn Springbokspan ʼn ere-ronde op Nuweland gehardloop het nadat hulle verloor het. Dit het ʼn nuwe maatstaf van middelmatigheid gestel uit dankbaarheid dat ʼn tweede groot loesing teen die All Blacks vermy is.

SA Rugby is volgens ingeligte bronne in ʼn groot finansiële verknorsing. Hoe groot is dit? En hoe het dit gebeur?

Hoe gaan hierdie geldtekort Suid-Afrikaanse rugby in 2018 op alle vlakke beïnvloed? Vanjaar het die provinsiale sewesreeks vir mans en vroue nie plaasgevind nie; die provinsiale amateurreeks het ook in die slag gebly; en so ook die provinsiale klinieke-toernooi.

Deursigtigheid is, soos aanspreeklikheid, nie iets wat by die rugbybase bestaan nie. Geen mens behalwe SA Rugby se vermeende grootkoppe self weet wat hulle beplan nie.

Malcom Marx – ‘n ligpunt (Foto: GB Jordaan)

Rassie Erasmus is nie ʼn wonderwerker nie, maar gelukkig begin hy darem heel onder danksy SA Rugby en Coetzee se onvermoë en kleitrappery – en als wat Erasmus beplan en doen kan dus net ʼn welkome verbetering wees.

Daar was ook ligpunte.

Malcolm Marx, die pak Bok-voorspelers as geheel, en die Westelike Provinsie wat in die Curriebekereindstryd teen die Sharks gewys het skrums kan nog wedstryde wen, verdien ook vermelding.

Sokker

Bafana Bafana het weer sukses beloof, maar toe (hoe dan anders?) misluk in die poging om vir die 2018 Wêreldbekertoernooi in Rusland te kwalifiseer. Nou werk hulle om die Afcon-toernooi te haal wat in 2019 in Kameroen plaasvind.

Misluk hulle daarmee, sal die soveelste nuwe afrigter ingespan word en waarskynlik misluk, want soos by SA Rugby het die sokkerbase ook geen toekomsplan nie.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.