Blitsbokke wil weer die kroon dra

Kyle Brown sal sy 68ste toernooi vir die Blitsbokke in Hamilton speel. Foto: Facebook.

Die derde toernooi van die HSBC-sewesreeks skop Vrydag in Hamilton, Nieu-Seeland, af en die Blitsbokke sal hul reeks weer op

koers wil kry ná ’n paar teleurstellende vertonings.

Goeie nuus is dat die veteraanspeler, Chris Dry, sy terugkeer tot die span maak. Hy was vir 14 maande op die krukkelys ná ’n ernstige kniebesering.

Die Blitsbokke is tans vyfde op die punteleer en is ’n hele paar punte agter die VSA. Afrigter Neil Powell het egter ’n opwindende verandering gemaak toe hy die vlugvoetige JC Pretorius as ’n amptelike reserwe gekies het.

Pretorius het as skoolspeler die plaaslike hoërskoolvelde aan die brand gespeel en is deur kenners geloof vir sy ongelooflike versnelling. Hy het vir die SA Skolespan uitgedraf, terwyl hy vir die Blou Bulle se o/19’s en o/21’s uitgedraf het. Hy was ook by Marius Schoeman se Sewesakademie betrokke.

Dan sal Kyle Brown sy 68ste toernooi in Blitsbokkleure speel. Die ou strydros speel van sy beste rugby en sy hart klop warm vir sy geliefde Blitsbokke.

Blitsbokgroep vir die toer na Nieu-Seeland en Australië: Chris D ry, Phillip Snyman, Impi Visser, Zain Davids, Werner Kok, Kyle Brown, Branco du Preez, Selvyn Davids, Justin Geduld, Dewald Human, Siviwe Soyizwapi, Stedman Gans, JC Pretorius.

Die Hamilton-toernooi is op 26 en 27 Januarie. Die Blitsbokke se bepalings is soos volg:

23:22 (26 Januarie) teen Kenia

03:10 (27 Januarie) teen Frankryk

07:22 (27 Januarie) teen Skotland

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.