Bly eerder tjoepstil wanneer ‘n skopper pale toe aanlê

Dit is ʼn algemene verskynsel in rugby: op Loftus Versfeld, Ellispark en Nuweland.

Dis nou wanneer jou teenstander se doelskopper pale toe aanlê, en die toeskouers hom uitjou, asof hulle geen maniere het nie.

Dit gebeur ook nie net in Suid-Afrika nie, dit kom algemeen in Nieu-Seeland, Australië, Argentinië, Frankryk en sekerlik in ʼn paar ander lande ook voor.

ʼn Hele paar jaar gelede het dit nog die gewenste uitwerking gehad, maar hedendaagse skoppers sluit hulle af van die gejou. Hulle steur hulle nie meer daaraan nie, hulle sê gêbedjies en rympies op en dit spoor hulle meer aan om die bal deur die pale te jaag. Hulle kry lekker wanneer die bal oor is en kan nie wag om weer pale toe te skop nie.

Die ironie is dat ʼn skopper onder veel meer druk geplaas wanneer jy ‘n spel kan hoor val. Gaan praat maar met Andrew Mehrtens en Braam van Straaten.

Maar die neging het oorgewaai na die wêreld-veerpyltjiekampioenskap, wat Donderdag in Londen begin het en duisende ondersteuners en miljoene televisiekykers die volgende paar weke vasgenael gaan hou.

Verskoon die Engelse byname, maar wanneer manne soos Hurricane, Jackpot, Pretty Boy, the Undertaker, Goldfinger, Pie Man, Caveman, Terminator, Iceman, Dog, Baby Face, Fat Cat en Webby the Spider mekaar aanvat, dan spat die vonke.

Dit het juis Donderdagaand gebeur toe Nieu-Seeland se Bernie Smith deur die Brit Justin Pipe met 3-2 uitgeskakel is.

Smith kon die kragmeting beklink het deur ʼn dubbel 10 te gooi, maar toe hoes Pipe agter hom net voordat hy gooi en hy mis die dubbel 10.

“Vuilspel!,” en “Siesa!” het die ondersteuners laat waai, want hoe op dees aarde kan jy agter ʼn man staan en hoes net voordat hy  gooi?

Algemene les: bly tjoepstil wanneer iemand aanlê, dis net goeie maniere – en dit maak nie saak of dit in rugby of veerpyltjies is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.