Boetie en sussie laat die swaarde flits

Natania en Christiaan Bester is SA se broer-en-suster-skermkunsduo. Foto: Verskaf.

In krieket doen ’n kolwer se kolf die praatwerk, maar in skermkuns is dit swaarde wat ’n meningsverskil tussen twee atlete opklaar.

Hoewel Europeërs en Asiërs tradisioneel die beste in dié sportsoort vaar, is Suid-Afrikaners algaande besig om hul swaarde met mening saam op die internasionale verhoog te kruis.

En in Natania en Christaan Bester spog die land met ’n broer-en-suster-duo wat vir niemand hoef terug te staan nie.

Die twee is tans in Pole waar hulle saam met die nasionale span van Venezuela vir die Junior Wêreldbeker voorberei. Hulle neem op 12 April in die junior afdeling deel.

Hulle het in 2009 begin skerm en drie jaar later het hulle kompeterend begin deelneem.

“Skermkuns benodig baie koördinasie en dit is beslis ’n aanpassing om die bewegings aan te leer. Jou hande en voete moet immers verskillende dinge op dieselfde tyd doen!”

Dit word as ’n vaardigheidsport beskou en die bewegings moet herhaaldelik ingeoefen word sodat dit instinktief in ’n kompetisie-situasie uitgevoer kan word. Jy moet beweeg sonder om te dink,” het Natania aan Maroela Media gesê.

Natania en Christiaan Bester. Foto: Facebook.

Die swaard weeg ongeveer 0,5 kg en jy moet fisiek sowel as emosioneel op jou skerpste wees om ’n sukses in dié sportsoort te behaal.

“Hoewel ons nie elke dag aan ons skermkuns skaaf nie, werk ons steeds elke dag aan ons fiksheidsvlakke. Ek het drie keer per week individuele skermsessies by my afrigter, Daneil Steenkamp, terwyl Christiaan twee keer per week by Andrei Kovrijnykh oefen.”

Dan is daar ook oefensessies by Tukkies, terwyl daar Saterdag privaat saam met die bestes in die land geoefen word.

Hulle neem in die epée-afdeling* deel en Natania vertel dat Italië, Frankryk en Hongarye veral goed in dié sportsoort vertoon. Die voorste vrou is egter van Hong Kong.

Buiten die Bester-duo sal Suid-Afrka se Harry Saner (junior mans), Moné de Jager (junior vrouens) en Alida van der Merwe (kadet-vrouens) ook in aksie by die Wêreldkampioenskap wees.

Maak só ’n swaard seer wanneer dit jou raaksteek?

“Natuurlik!” is Natania se onmiddellike antwoord.

“Die egrste is eintlik maar bloukolle omdat ons beskermde klere dra.”

Volgende week sal SA skermkuns-geesdriftiges hoop dat dinge goed, beter, Bester vir die span sal gaan.

 

  • Epée is ’n skerppuntige skermswaard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Baardbek ·

Wat van “Sagtebal-kolf-skermwerk”? My gade is ‘n meesteres hierin! Vra my, met af kakebene kan ek eerstehand daarvan getuig!! :-):-)

Brahman ·

Op die een foto is hulle Bester en op die ander Botha….wie is hulle nou eintlik??

Anoniem ·

Dis nie swaarde nie, maar Rapiere met beskermde punte, groot verskil.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.