Boklegende sterf op 89

Die voormalige Sprinbokkaptein, Johan Claassen, is op 89-jarige ouderdom in Pretoria oorlede. Foto: Potchefstroom Herald.

Professor Johan Claassen is in die ouderdom van 89 in Pretoria oorlede na sy gesondheid die afgelope ruk baie agteruitgegaan het.

As rugbyman het hy diep spore in Suid-Afrikaanse rugby getrap. Hy was nie net een van die land se voorste slotte nie – trouens, volgens dr. Danie Craven was hy die beste nóg – hy was ook die Bokkaptein en later ook die span se afrigter en ’n nasionale keurder.

Op die speelveld was hy rateltaai en het hy 28 wedstryde vir Suid-Afrika tussen 1955 en 1962 gespeel.

Die legendariese All Black, sir Colin Meads, het die volgende van Claassen te sê gehad in sy boek, The Silver Fern: “Hy (Claassen) was een van die beter spelers teen wie ek gespeel het. Hy was nie baie beweeglik nie, maar mens kon hom glad nie van stryk bring nie.”

Hy het die Bokke in nege toetse aangevoer. Foto: Potch Herald.

Hy het die Bokke in nege wedstryde aangevoer en het die span van 1968 tot 1971 afgerig. Sy grootste sukses as breier was waarskynlik die 1970-reeksoorwinning oor die Nieu-Seelanders – ’n sege wat die Kiwi’s se onoorwonne rekord van vyf jaar geknak het.

Die Bokke het uiteindelik daardie reeks 3–1 gewen.

Claassen het op Christiana in die destydse Wes-Transvaal skool gegaan en sy liefde vir die Mielieboere was duidelik. Hy het 105 wedstryde vir hulle gespeel en het vir jare op dié unie se raad as president gedien.

Hy was ’n professor in Bybelkunde op die Potchefstroomse Universiteit en word oorleef deur sy vrou (Ada), vier kinders, kleinkinders en agterkleinkinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Niel Mare ·

Die broers Claassen , Johan , Ernst en Wilhelm het onder moeilke finansiele omstandighede in Christiana grootgeword waar Chris Kruger en Beyers Mare hulle as rugbyspelers geslyp het . Ek was bevoorreg om as gr. 2 laaitie saam met pa , Beyers op 25 Augustus 1962 ,Johan se laaste toets by te woon waar hulle nie Leeus van hul voete af gespeel het en met 34-14 geseevier het . In die proses het Johan self n drie gedruk . In 1971 stap ek as eerstejaar by Huis Izak Meyer in , met Prof Claassen as ons koshuisvader . Wat n eer en voorreg . Hy deel met ons hoe , onder sy afrigtershand hy die Bokke tot n roemryke reeksoorwinning teen die magtige All Blacks gelei het . Nederig , beskeie met n onwrikbare geloof in sy Skepper . n Kolos in SA rugby . Oom Johan , ons eer jou nagedagtenis .

Swartwolf ·

Hy was een van die grootstes. Nie net as speler maar as mens en kaptein ook.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.