Bothaville-driedrukblits het nou Spaanse woema

Juandré Kleynhans probeer verby ’n verdediger in Spanje kom. Foto: verskaf.

Op skool in Bothaville het Juandré Kleynhans ’n tyd van 11,40 s in die 100 m gehandhaaf. Maar hy glo hy is deesdae vinniger. En te danke aan GPS-tegnologie het hy die bewyse om sy vermoede te staaf.

Kleynhans speel deesdae sy rugby in Spanje waar hy vir die Aparejadores-rugbyklub op heelagter uitdraf. In een van die kragmetings teen die Independiente-rugbyklub het hy netjies deur die verdedigers se linie gebars om ’n spogdrie te druk. ’n Vinnige kyk na sy GPS-horlosie en sy lopie is teen 36,99 km/h gemeet.

Op pad om ’n drie te keer het hy teen die Vrac-rugbyklub sy ore soos ’n vlakhaas platgetrek om die speler plat te duik. Dié lopie is teen 37km/h gemeet.

Nie sleg vir ’n speler wat sy loopbaan by die Griffons en Pumas in Suid-Afrika begin het nie.

“Omstandighede is moeilik in Suid-Afrika en veral spelers vanuit kleiner unies kyk na die buiteland om te sien of hulle ’n loopbaan van hul sport kan maak. Nie almal is so gelukkig nie, maar as jy vir ’n jaar kan oorkom, sien en ervaar jy soveel ongelooflike dinge,” sê Kleynhans.

Volgens Kleynhans is een van sy grootste drome steeds om vir Suid-Afrika te speel – maak nie saak of dit op die sewes- of vyftienmanfront is nie.

Hy tel onder die voorste driedrukkers in die reeks. Hier is hy as regtervleuel op pad na die doellyn. Foto: verskaf.

“Dit sal ook spesiaal wees om vir Spanje se nasionale span uit te draf – ek kwalifiseer juis in Januarie om vir hulle te speel.”

Deesdae verstaan hy ook al die Spanjaarde wanneer hulle rustyd in die kleedkamers hul spanpraatjies het.

“Ek verstaan so te sê alles wat hulle sê en ek kan ’n gesprek in gebroke Spaans, of “Spanglish” voer. Maar my doelwit is beslis om teen die einde van die jaar vlot saam te kan gesels,” sê hy.

“Ek sou sê dat rugby in Spanje dalk nie so fisiek as in Suid-Afrika is nie; maar dit bly steeds kliphard. Die rugby hier is wel besig om beter te word omdat daar soveel internasionale spelers is wat hier speel.

“Ek kan egter een ding met oortuiging sê: Jy waardeer Suid-Afrikaanse spelers soveel meer as jy hier speel!”

Soms kom die beste diamante uit die kleiner unies.

  • Kleynhans tel onder die voorste driedrukkers in die Spaanse liga.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.