Branco kan Frankie verbysteek

Branco du Preez. Foto: Facebook.

Blitsbok-ster Branco du Preez behoort Frankie Horne se rekord van 68 toernooie vir die nasionale sewesspan verby te steek wanneer hy in sy agtste Hongkong-toernooi dié naweek speel.

Dit is so te sê onmoontlik om jou ’n Blitsbokspan sonder Du Preez in te dink – hy is sedert 2010 al deel van die span se opset toe hy as 19-jarige sy debuut gemaak het.

Du Preez, reeds die voorste stelskopper in die geskiedenis van die Blitsbokke met sy 387 suksesvolle pogings, sal Horne se rekord die naweek ewenaar, en indien alles volgens plan verloop, sal hy ook volgende week in Singapoer gelyk trek aan Kyle Brown se rekord van 69 toernooie.

Hy sê dat hy sy bes vir die span sal wil gee sodat hulle so mededingend as ooit sal wees. En dalk selfs dié Hongkongse toernooi vir die eerste keer te wen.

“Elke keer wanneer jy na Hongkong kom, en ek was al ’n paar keer vantevore hier, kry ʼn mens net ’n gevoel dat iets gaan gebeur,” het Du Preez, wat al 339 wedstryde in sy Wêreldreeks-loopbaan gespeel het, gesê.

“Wanneer jy vir jou land op die veld stap, is dit spesiaal. En die skare maak dit net soveel lekkerder – hulle ondersteun werklik al die spanne.”

Du Preez het 1 220 punte in sy loopbaan aangeteken – teen ’n gemiddeld van 3,6 punte per wedstryd.

“My doelwit is om seker te maak dat ek my werk doen, maak nie saak of ek in die beginspan is of van die plaasvervangersbank op die veld verskyn nie. Ons elkeen het verskillende verantwoordelikhede; maak nie saak wat die span van my verwag nie, ek sal my uiterste bes gee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.