Crusaders blaas weer vuur teen ’Canes

Die Crusaders het die Hurricanes 32 – 8 gewen. Foto: Twitter (Crusaders-rekening).

Crusader-kaptein Sam Whitelock het sy span se besluitneming bevraagteken ná hul skoknederlaag teen die Waratahs verlede naweek. Die ’Tahs se sege het die Crusaders se trotse onoorwonne rekord van 19 agtereenvolgende wedstryde (insluitend verlede jaar se eindstryd) gebreek.

Die kruisvaarders is egter weer terug op die wenpad nadat hulle die Hurricanes vanoggend met 32-8 in hul Nieu-Seelandse derby geklop het.

Die span se heelagter, David Havili, het twee drieë gedruk en kon ’n derde gehad het as een van die voorafgaande aangeë nie vorentoe was nie.

Die Crusaders het ’n rustydvoorsprong van 17-8 geniet en hoewel die tweede helfte later in ’n morsige stryd verander het, het hulle steeds twee drieë ( deur Havili en Braydon Ennor) gedruk om die wedstryd finaal buite die ’Canes se bereik te plaas.

“Ons het vandag die bal baie beter beheer en dit het ons toegelaat om die soort rugby te speel wat ons graag wil,” het Whitelock ná die tyd aan verslaggewers gesê.

Die All Black-kaptein, Kieron Read, het sy eerste wedstryd vir die Crusaders begin, maar het die veld in die tweede helfte met ’n bobeenbesering verlaat.

Vir die Hurricanes het Ngani Laumape sy gebruiklike drie gedruk, terwyl Jordie Barrett met ’n strafskop in die kol was.

Die Crusaders is eerste op die Nieu-Seelandse puntetabel met 24 punte.

  • Puntemakers:

Crusaders: Drieë: Will Jordan, David Havili (2) en Braydon Ennor. Doelskoppe: Richie Mo’unga (3). Strafskoppe: Mo’unga (2).

Hurricanes: Drie: Ngani Laumape. Strafskop: Jordie Barrett.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.