Curriebeker: Leeus juig, hartseer vir die WP

Leeus teen die WP. (Foto: GB Jordaan)

Die Leeus se ondersteuners krap steeds kop hoekom dit so lank vir hul span geneem het om op dreef te kom.

Die Leeus het Saterdagmiddag op Ellispark hul lang verloordroogte van tien Curriebekerwedstryde gebreek toe hulle hul eerste sege behaal het deur die Westelike Provinsie met 33-10 te klop en op die koop toe ʼn bonuspunt vir vier drieë ingesamel het.

Geoordeel aan die puik vertonings van onder meer die kwiksilwer losskakel Tiaan Swanepoel en die nuwe aanwins-skrumskakel, die woelige Sanele Nohamba, kan ʼn mens maar net kop skud.

Ja, een swaeltjie maak nie ʼn somer nie en ja, die Leeus het ʼn hele paar spelers ingespan wat weke lank in die veel harder en meer mededingende Verenigde Rugbykampioenskap gestaal is. Wat groot indruk gemaak het, was die passie van Reinhard Nothnagel, Ruben Schoeman, Ruan Dreyer, Emmanuel Tshituka en Francke Horn wat voorlangs die deurslag gegee het.

Agterlangs was die vertonings van Stean Pienaar en Edwill van der Merwe saam met dié van Swanepoel (hy het terloops 18 punte aangeteken) ook ʼn riem onder die hart.

En die WP?

Wel, hulle het nie hul VRK-spelers ingespan nie omdat hulle volgende Saterdag in die kwarteindronde van die reeks teen Edinburgh speel.

Wat ʼn mens wel bekommerd maak, is dat twee van die oudste bonde in Suid-Afrikaanse rugby saam in 21 wedstryde net drie oorwinnings behaal het, ook teen  van die Aspoester-spanne in SA rugby, wat met veel kleiner begrotings en spelersgetalle moet klaarkom.

Daar lê diep selfondersoek en baie werk voor.

Punte: Leeus 33 (20): Drieë: Morné Brandon, Stean Pienaar, Francke Horn, Tiaan Swanepoel. Doelskoppe: Swanepoel (2). Strafdoele: Swanepoel (3).

WP 10 (3): Drie: Nama Xaba. Doelskop: Timothy Swiel. Strafdoel: Swiel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Knap gedaan Leeus, baie mooi gespeel, die WP ondertseuners se snoek braai en patats was verseker nie lekker nie en die wyn ook suur. Sterkte vorentoe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.