Curriebeker: WP hou partytjie teen Cheetahs op Nuweland

Die Curriebekerwedstryd tussen WP en die Vrystaat-Cheetahs. (Foto: Hans Linde)

Nou kan die Westelike Provinsie helaas sê dat hy Nuweland op gepaste wyse gegroet het.

Maande lank al probeer die WP ʼn laaste keer op Nuweland wen, en toe kry hulle dit Saterdag reg.

Die Streeptruie het hul Curriebekerwedstryd teen die Vrystaat-Cheetahs met 40-39 gewen nadat die rustydtelling 28-16 in die Cheetahs se guns was.

Daar is 79 punte in dié wedstryd aangeteken en altesaam nege drieë is gedruk, maar dit was nou nie juis ʼn wedstryd wat aan skoolkinders gewys sal word oor hoe rugby gespeel moet word nie.

Daarvoor was daar te veel foute aan albei kante en boonop het die Cheetahs se dissipline hulle erg in die steek gelaat.

Oor die WP se losskakel, Tim Swiel, wie se visier ingestel was en 20 punte aangeteken het, kan die Cheetahs hulself skop (en sommer ook vir skeidsregter Rasta Rashivenge van hul Kerskaartjielysie afhaal), want hy het hulle behoorlik gestraf.

Maar aan die ander kant het die spelers daartoe bygedra: Hulle het die skrums laat val, hulle het van hul voete af by losskrums ingedons en ook nie betyds weggerol nie.

Die Curriebekerwedstryd tussen WP en die Vrystaat-Cheetahs. (Foto: Hans Linde)

Die WP het in die tweede helfte vlamgevat toe die 21-jarige breker-losvoorspeler Evan Roos van die bank af opgestuur is. Dié jong man het dié seisoen reeds ses drieë gedruk en die Springbokkeurders gaan hom nie lank langs die kantlyn hou nie.

Daar staan pure Springbok op sy voorkop geskryf en hy is die ideale plaasvervanger wanneer Duane Vermeulen uittree.

Die WP het met sy sege van sesde na vierde op die puntelys opgeskuif en is terug in die wedloop om vir die uitspeelwedstryde te kwalifiseer.

Alles is nog nie seepglad nie, maar hulle het ’n stewige pak en gevaarlike agterste driehoek, veral noudat Warrick Gelant weer terug is op heelagter.

Vir die Cheetahs was dit weer ʼn hartseerverhaal, een van so naby en steeds te ver.

As Ruan Pienaar in die 66ste minute met ʼn doelskop geslaag het, kon hulle gewen het, maar as is verbrande hout, veral as jou dissipline lol.

Punte: WP 40 (16): Drieë: Sergeal Petersen, Evan Roos, Seabelo Senatla, Godlen Masimla. Doelskoppe: Tim Swiel (4 ). Strafdoele: Swiel (4).

Vrystaat-Cheetahs 39 (28): Drieë: Jeandre Rudolph (2), Jasper Cohen, Tian Meyer, Chris Smit. Doelskoppe: Ruan Pienaar (4 ). Strafdoele: Pienaar (2).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kobus ·

Net n wenk aan Clayton en Ruan, basiese beginsel is om balle uit te skop. Die wendrie het van n verbroude strafskop van Blommetjies gekom wat deur Ruan nagevolg is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.