Daar moet oor skrums en skoppe besin word

(Foto: Pixabay)

Rugby kan ʼn wonderlike spel vir spelers en toeskouers wees. Maar dan sal daar dringende aandag aan ʼn paar reëls en hul toepassings, en ook aan ander aspekte, gegee moet word.

Wat is tans die grootste irritasie in die spel? Ongetwyfeld die lang onderbrekings vir veral hersiening deur die televisieskeidsregter en die baie speeltyd wat daarmee verlore gaan.

Maar wat die spel self betref, is daar veral twee vername frustrasies: Eerstens is daar die alewige ineenstorting van die skrum, wat so dikwels deur ʼn strafskop gevolg word. Dit bly ʼn grys gebied vir die spelers én die skeidsregter wat maar alte dikwels klaarblyklik op raaiwerk staatmaak. Dit is nou ʼn geval van skrum, herset, skrum, herset … met dikwels ʼn strafskop, strafdrie of geelkaart wat volg.

Tweedens is daar die skoppie van (gewoonlik) die skrumskakel wat nou in wedstryde in die ou-ou dryfertjie-skopspeletjie van skoolseuns ontaard het. Span A skop, soms kort, maar heel dikwels 40 tot 50 meter ver. Dit word dan deur Span B, dikwels binne hul eie kwartgebied, gevang of opgetel en teruggeskop – nie noodwendig kantlyn toe nie, want dan gee hy besit met die lynstaaningooi prys, maar die skop is so ver moontlik, hoofsaaklik met die hoop dat Span A ʼn fout sal maak. En dan is dit weer Span A se beurt …  Ag, ons almal ken die patroon met dié doelwit: hoop die ander span maak ʼn fout, of skop nie so ver terug nie, sodat jy sal veld wen, dalk selfs ʼn strafskop sal kry.

Daar is ook die skeef ingooi in die skrums wat nou aanvaarde en goedgekeurde praktyk is, en dikwels ook in die lynstane; die feit dat voorspelers met in- en afskoppe ongestraf voor die bal is wanneer dit geskop word; dat die vlagmanne wat nou assistentskeidsregters genoem word, vorentoe aangeë miskyk.

Oplossings?

Die manne wie se werk dit by Wêreldrugby is, dink sekerlik hieroor na en sal (uiteindelik) seker met voorstelle kom, maar hierdie sommer so uit-die-duim-uit voorstelle kan miskien ook as grondslag vir hul oplossings gebruik word.

Skrums

(Foto: Pixabay)

Met die volle besef en inagneming van die groot aantal ernstige rugbeserings veral op skole- en laerligaklubvlak, lyk die skrumoplossing vir manne wat eersteklas rugby speel, op die oog af eenvoudig.

Al te dikwels sien ons boonop in die hedendaagse spel dat die bal feitlik in die skrumskakel se hande is, maar dat een of ander tegniese oortreding ʼn herskrum of strafskop tot gevolg het.

Laat die manne skrum, soos in die ou dae, met die swakste wat op loskop in die grond ingeboor word en die swakker vaskop wat in die lug in opgestoot word – solank die bal uitkom.

Dink net terug na sterk skrumdrukkers soos Mof Myburgh, Tommie Laubscher, Jaap Bekker, Hempies du Toit, Richard Bands …net so sterk, hoewel miskien minder fiks soos vandag se stutte. En probeer dink hoeveel provinsiale voorrymanne voor die nuwe reëls in skrums beseer is?

Voorstel: Gebruik die huidige reël ter beskerming op skolevlak en in die laer klubligas (hoewel daar op daardie vlak steeds ʼn paar snaakse raaiskote van onervare skeidsregters sal wees!)

Skoppe

(Foto: Pixabay)

Dr. Danie Craven het in die sestigerjare die skoonvang-stelsel vanaf enige skop, selfs ʼn grondskoppie, by Stellenbosch se koshuisrugby ingevoer. Dok het geglo dat skoppe oordeelkundig moes wees en swak skoppe gestraf moes word.

Die gevolg was rugby met bitter min skoppe, wat natuurlik nie in dieselfde mate op eersteklasvlak realisties is nie.  Maar dink net hieraan: As jy die bal 50 meter ver die lug inskop met die hoop/verwagting dat die teenstander die bal sal misvang of ʼn kleiner afstand sal terugskop, sal die huidige “dryfertjie-stelsel” voortduur.

Straf die skopper met ʼn lynstaan vir die ander span, regoor die merk van waar geskop is, in die gevalle waar hy die bal tot in die ander kwartgebied gesool het en die ontvanger “Merk!” mag skree, of hy die bal nou in die lug vang of van die grond af moet optel.

Die gevolg behoort minder en – waar dit wel steeds gedoen word – meer oordeelkundige skoppe te wees. Daar is verskeie permutasies hoe om die reël ʼn effektiewe instrument vir meer hardlooprugby te maak.

Lig in die SA rugby-tonnel

Dis ʼn deurmekaar tyd waardeur Suid-Afrikaanse rugby tans gaan – en nie net oor die Covid-19-pandemie nie.

Daar is skielik lig in die tonnel vir spelers op alle vlakke, afhangende van die betrokke bond en ook die onderskeie onderwysowerhede – en ook van die onderskeie unies se finansiële vermoë om die agterstand en terugkeer te befonds. Maar daar is ook kommer, uitdagings en onsekerhede voordat die klubs en skole regtig by die wedstrydstadium sal uitkom.

Kom ons kyk eerstens na hierdie probleme voordat die lekker van rugby – natuurlik na gelang van die wispelturigheid en beheer van die Covid-19-virus oor die volgende maande – bespreek word.

Klubs en skole

(Foto: Pixabay)

Ondanks die algemene optimisme dat klubrugby, veral by die groter unies, nie te kwaai met spelerverlies getref sal word nie, bly dit die administrateurs en klubbesture se grootste uitdaging. En dieselfde geld by skole.

Die Bulle se klubrugby het die afgelope drie jaar ongetwyfeld die grootste ontwikkeling en daarmee gedaanteverwisseling ondergaan met die implementering van die oorgrensligas wat spanne van buurbonde insluit.

Trouens, só goed gaan dit in Pretoria dat die Blou Bulle se vyf beroepsklubs – Tuks, Naka Bulle, QBR, Centurion en Limpopo Subunie se Northam – se begrotings almal meer is as dié van enige van die ses kleiner unies en baie naby aan dié van Griekwas, ʼn Curriebeker-unie.

Tog het Willem Strauss, president van die BBRU, gemaan dat daar hard gewerk sal moet word om die BBRU (Blou Bulle-rugbyunie) se klubspanne in hul vele ligakompetisies die komende seisoen suksesvol op die veld te kry.

Uitdagings

Een van die vernaamste uitdagings vir alle unies is om te bepaal hoeveel spelers, veral skoolverlaters, ná die lang rugbyonderbreking tot die spel sal terugkeer. Dit sal, onder meer, ʼn invloed op die ligas se indeling en bepalings hê.

Ander uitdagings en beletsels sluit in munisipale velde wat nie in stand gehou is nie; borgskappe wat kon verval het en van nuuts af onderhandel moet word; afrigters, skeidsregters en spelers wat Covid-19 opgedoen het (en in gevalle swaar getref is) en nie tans betrokke kan wees nie.

Opwindende vooruitsigte

Oor die Britse en Ierse Leeus se toer kan ʼn mens bitter min sê. Daar is soveel permutasies van moontlikhede en onsekerhede dat niemand eintlik ʼn mening behoort te waag nie. Maar daar is darem, afhangende van die pandemie, ʼn hele paar ligpunte vorentoe.

Dis nou wel nie die sterkste spanne van die sewe franchises, onder meer die Pumas en Griekwas, plus die Oostelike Provinsie wat deurgaans aan die nuwe voorbereidingsreeks sal deelneem nie, maar dit gee wel ʼn aanduiding van hoe goed ons reserwekrag en jong talent is wat Suid-Afrikaanse rugby oor die volgende paar jaar moet dra.

Reënboog-reeks

Ook aan die positiewe kant is daar die opwindende vooruitsig van die Reënboog-reeks wat op 17 April begin en waaraan die vier Suid-Afrikaanse franchise, die Bulls, Sharks, Stormers en Lions sal deelneem.

Dis ʼn jammerte, maar die 12 oorsese spanne in die Reënboog-reeks, met die pandemie nog in volle swang, sal nie hier kom speel nie.

Die Suid-Afrikaanse spanne in die Reënboog-reeks sal vanuit die sogenaamde bioborrel oorsee aan die kompetisie deelneem.

Die Reënboog-reeks teen die grotes van veral Ierland en Wallis, met vier nie-te-versmaaide spanne ook van die Skotte en Italië se kant af, sal duidelikheid bring of ons ietwat stagnante speelstyl effektief genoeg is.

Varsitybeker

Ook aan die positiewe kant is daar die besluit dat die Varsitybeker vanjaar wél gespeel sal word (sonder die koshuise en die sogenaamde Young Guns). Die Varsityskild-reeks word wel gespeel.

Dit blyk dat die spanne ʼn week in die bioborrel sal wees en drie wedstryde binne die week sal speel. Daarna is daar twee weke geen wedstryde nie, en word die proses daarna nog twee keer herhaal. (Die Madibaz is bygevoeg nadat hulle laas jaar vir bevordering gekwalifiseer het. Dit bring die enkelronde op nege ligawedstryde te staan).

Benewens die opeenhoping van wedstryde binne ʼn enkele week, is daar natuurlik ook die realiteit dat die pandemie se effek op spanne spelertekorte kan veroorsaak. Die Tukkies-afrigter Nico Luus het laat blyk dat Tukkies moontlik 50 plus-spelers mag nadertrek.

Aandeelhouding

Daar het sedert November 2019 ook ʼn nuwigheid in ons rugby ingetree toe Patrick Motsepe en Johan Rupert elk 37% van die BBRU se aandeelhouding bekom het. Dié finansiële inspuiting is duidelik waarneembaar in die aanstelling van die nuwe senior bestuur en afrigters op alle vlakke en die suksesse van al die Bulls en Bulle se spanne met die vergrote spelerkorps. En dit gaan net so goed by die Sharks met hul nuwe oorsese aandeelhouers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Frans

Solank net die ingooiende span die bal moet haak sal skrums altyd ‘n probleem wees want sodra die bal ingegooi word moet een van die voorrye van die ingooiende span sy voet oplig om die bal te haak, Dit voorsaak ‘n momentele wanbalans in die voorry. Baie van die opposisiespanne buit die voordeel van 16 voete teen 15 uit en gee die swakste moontlike bal aan die ingooiende span. Om dit te voorkom gooi skrumskakels die bal so skeef in dat daar net sowel weggedoen kan word met die skrum en met ‘n kort skoppie vervang kan word.Die oplossing is… Lees meer »