De Kock deel Pak-slae uit

Quinton de Kock het met die vierde toetshonderdtal van sy loopbaan waarskynlik die derde toets óók buite Pakistans se bereik geplaas. Foto: Krieket SA/ANA

Die voormalige Protea-kaptein, Graeme Smith, het die afgelope ruk knaend op SuperSport gesê dat die tyd ryp is vir Quinton de Kock om sy stempel behóórlik in toetskrieket af te druk.

Smith se kommentaar was dalk effens vrank, maar glad nie so buitensporig as wat talle De Kock-bewonderaars mag dink nie. In ’n rapsie meer as twee jaar het dié talentvolle paaltjiewagter/kolwer – die “Adam Gilchrist van die moderne era” – nie ’n enkele toetshonderdtal geslaan nie. Trouens, sy gemiddeld in 2018 (net voor die Pakistan-toetsreeks) was ’n rapsie meer as 20 lopies per kolfbeurt.

Maar om ’n geykte uitdrukking by jou deursnit internasionale sportman tydens ’n perskonferensie te leen: Spelpeil is tydelik, maar klas is permanent. En in De Kock se geval het hy op die derde dag van die derde toets op ’n effe wispelturige Wanderers-kolfblad ’n kolfmeesterles teen Pakistan gelewer.

Hy het éérs saam met Hashim Amla (71) die Protea-kastaiings uit die vuur gekrap – dinge het beroerd op 93/5 gelyk – waarná hy goed met Vernon Philander (14) en Kagisa Rabada (21) gekombineer het om ’n bobaas 129 aan te teken.

Sy vierde toetshonderdtal het die Proteas in staat gestel om 303 aan te teken – ’n voorsprong van 380 lopies. ’n Voorsprong wat meer as genoeg behoort te wees teen ’n vuisvose Pakistanse kolforde wat in die vorige twee toetse moes bontstaan teen die blitskartetse van Duanne Olivier, Kagiso Rabada en in ’n mindere mate Dale Steyn.

Hashim Amla op die voorvoet teen Pakistan. Foto: AP Photo/Themba Hadebe

Ten spyte van ’n stewige openingsvennootskap van 67 tussen Iman-ul-Haq en Shad Masood, het Steyn (2/37) van albei openingskolwers binne die bestek van sewe lopies ontslae geraak, terwyl Olivier (1/41) vir Azhar Ali goedkoop uitgeknikker het. Al drie kolwers is deur De Kock agter die paaltjies gevang.

Dit is Olivier se 22ste paaltjie in die reeks – nie sleg vir iemand wat aanvanklik nie eens speelkans in die reeks sou kry nie.

’n Vinnige vennootskap van 49 lopies om die vyfde paaltjie tussen Asad Shafiq (48) en Babar Azam (17) het gesorg dat Pakistan die derde dag op 153/3 afgesluit het. ’n Agterstand van 228 lopies met sewe tweedebeurtpaaltjies staande.

Met die krake wat al groter op die Wanderers-blad word, sal Pakistan diep moet delf om die toets te wen. Hulle is in vier beurte in dié reeks vir minder as 200 lopies uitgeboender.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.