Denly se sprokiesverhaal in reeks om die As

Die Engelse aanvangskolwer Joe Denly in aksie. (Foto: Twitter)

Wanneer geluk die dag aan jou kant is, moet jy op daardie golf ry.

Dit het die Engelse aanvangskolwer Joe Denly in die vyfde en laaste kriekettoets in die reeks om die As op die Oval in Londen bewys.

Wanneer die vierde dag Sondag hervat word, kan Engeland vir oulaas die toutjies danksy Denly trek.

Jofra Archer (3*) en Jack Leach (5*) kolf in Engeland se tweede kolfbeurt voort op 313/8, wat reeds ʼn voorsprong van 382 lopies is.

Engeland is in beheer en op koers om die reeks met 2-elk gelyk te laat eindig, hoewel die Aussies reeds in die vierde toets seker gemaak het dat hulle nie die As uit hul hande kan laat glip nie.

Denly (94) het sy eie sprokiesverhaal geskryf nadat hy Donderdagaand ná uitskeityd sowat 100 km huis toe gejaag het om sy vrou met die geboorte van hul tweede kind by te staan.

Hy het hom Vrydagmiddag ná etenstyd trots en glimlaggend weer by die span aangesluit.

Toe hy laat Vrydagmiddag in Engeland se tweede kolfbeurt gaan kolf het, is hy boonop met sy telling op 0 misgevang.

Saterdag is hy op 54 deur Mitchell Marsh been voor paaltjie betrap, maar die Aussies het daarteen besluit om dit na die televisieskeidsregter te verwys en hy kon voortkolf.

Denly en Ben Stokes (67) het 127 lopies om die derde paaltjie aangeteken wat Engeland op die voorvoet geplaas het om beheer te neem.

Met ʼn blad wat reeds tekens van verwering toon, rus die druk nou vierkant op die Aussies se Steve Smith, Marnus Labuschange en David Warner om in Engeland se slaai te gaan krap deur ʼn baie groot wenteiken te jaag.

* Verkorte telkaart: Engeland 294 en 313/8 (Denly 94, Stokes 67; Lyon 3/65).

Australië 225 (Smith 80, Archer 6/67).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.