Derde keer skeepsreg vir Proteas

Maryka Holtzhausen, wat in die doelsirkel geskitter het. (Twitter SADN-diapora)

Derde keer skeepsreg!

Nadat Suid-Afrika twee naelskraapse neerlae teen Nieu-Seeland en Australië in die vierhoekige reeks gely het maar nogtans hulle kleinste punteverskil in 50 jaar teen elk aangeteken het, het hulle Sondagoggend in Nieu-Seeland met Engeland afgereken – die eerste keer in vier jaar.

Die telling was 54-51 – en daarmee het die Proteas hulle eerste oorwinning in die Sansea-Quadreeks behaal.

♦  Die reeks word aan die einde van die jaar en vroeg in die daaropvolgende jaar beslis. In albei die bene van die reeks speel  elk van die lande teen elke teenstander.

In die 2016/’17-reeks het Suid-Afrika goeie vooruitgang getoon, maar nou, in die derde ronde teen elk van die wêreld se voorste drie, het hulle sommer ʼn dubbele ‘skeepsreg’ behaal.

In die huidige reeks, die eerste been van die 2017/’18-reeks, het Suid-Afrika twee keer teen die Kiwi’s en een keer teen die Aussies een van die vier kwarte gewen maar telkens in die derde kwart uitgesak en naelskraap verloor.

Hierdie keer was dit anders. Dit was juis in die derde kwart dat die Proteas vasgebyt en die druk vierkantig op die Engelse gepak het.

Die eerste kwart is met 13-11 gewen, die tweede met 13-15 verloor. Die rustydtelling was dus 26-elk.

Maar toe het die meisies in Groen en Goud in die derde kwart 16 doele teenoor die 12 van Engeland aangeteken. Die telling was 42-38 toe hulle vir die laaste kwart op  die baan stap.

Suid-Afrika het hierdie die kwart met 12-13 verloor, maar ʼn driedoel-voorsprong behou.

Dit is ʼn deurbraak wat heelwat beloof vir die tweede ronde van die vierhoekige reeks wat aanstaande jaar gespeel word en ook ʼn draai in Suid-Afrika maak.

Lenize Potgieter (43/45, 96%) en Maryka Holtzhausen (11/15, 73%) het ʼn gesamentlike doelgemiddelde van 90% gehandhaaf wat deurslaggewend was.

♦  Die Proteas sal hulle nie veel steur aan die feit dat hulle weer vierde was nie. Hulle doelgemiddelde in die reeks was net-net swakker as Engeland s’n wat ook een van hulle drie wedstryde gewen het.

♦  Nieu-Seeland is die kampioen van hierdie eerste been van die reeks wat vroeg aanstaande jaar in Suid-Afrika en Engeland voortgesit word. Hulle het Sondag verras deur Australië met 57-47 te wen – die grootste doelverskil in hierdie eerste been van die 2017-’18-reeks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Koos1 ·

Awie ek stem!
Wat my egter hartseer maak is dat netbal by bykans alle skole gespeel word, net soos rugby, maar dat nelbal moet raap en skraap vir borge, en nie die selfde blootstelling kry nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.