Die 39-jarige Shaun Norris het baie dinge om te vier

Shaun Norris. (Foto: Gregory Shamus/Getty images/AFP)

Norris is ná die derde ronde van die Steyn City-gholfkampioenskap, wat in die noorde van Johannesburg by Steyn City gespeel word, op 193 houe – vier houe voor Dean Burmerster (197). Hy staan op die drempel van ʼn oorwinning as hy in Sondag se laaste ronde in dié toernooi in die Sonskynreeks kan kophou.

Norris het die derde ronde in 67 houe voltooi nadat hy tellings van 62 en 64 in die eerste twee rondes op sy telkaart ingevul het.

Hy het Saterdag nog ses voëltjies ingeryg om sy totaal ná drie rondes tot 22 voëltjies en ʼn arend op te skuif.

Ongelukkig het hy Saterdag op die 11de ʼn hou aan syfer afgestaan wat sy ronde bederf het.

Burmester word in die derde plek deur die onbekende Duitser Matti Schmid gevolg, met die Sweed Sebastian Soderberg en Joachim B Hansen van Denemarke saam vierde op 199.

Die Fransman Romain Langasque is sesde op 200.

Norris, wie se boer Kyle sy sak dra, het twee weke gelede vir die tweede keer pa geword.

Hy het tussen Augustus en November verlede jaar aan die Japanse reeks deelgeneem en die Japanse Ope-titel (sy sesde oorwinning in Japan) ingeoes.

Hy het ook ʼn toernooi in die Asiese reeks gewen en spog reeds met twee oorwinnings in die Sonskynreeks.

* In Tampa, Florida, is die Amerikaner Matthew NeSmith die voorloper ná die tweede ronde van die Valspar-kampioenskap in die Amerikaanse PGA-reeks.

NeSmith is 14 houe onder die baansyfer en is twee houe voor die Kanadees Adam Hadwin (-12) en die twee Amerikaners Scott Stallings en Sam Burns wat 11 houe onder baansyfer is.

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen is op -7 en Christiaan Bezuidenhout op -2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.