Die bokswêreld is baie arm sonder die Toweels

Willie Toweel (Foto: Twitter @eNCA)

“Hallo, my gei.”

Jarelank was dit die invalswoorde van Willie Toweel wanneer hy jou gebel het vir die een of ander skermoefening of boksaankondiging waarheen jy dan genooi is.

Almal was sy gei, of beste vriend, soos ek dit verstaan het.

Hy het jou nooit op jou naam genoem nie, net “my gei”.

Maar sy stem is ook nou stil nadat die laaste klok op Kersdag vir hom gelui het.

Die gordyn het dus die laaste keer op die legendariese Toweel-gesin gesak.

Willie het baie oor “Papa Toweel” gesels. Papa Toweel se kroos het uit ses seuns Jimmy, Viccie, Willie, Maurice, Alan, en Fraser bestaan asook ʼn suster Maureen.

Hulle het almal baie, baie diep spore in boks getrap.

Papa Toweel was op sy dae ʼn goeie bokser en was byna saam met die Springbokspan na die Olimpiese Spele.

Maar het hy eerder bekendheid verwerf as afrigter van Viccie (wêreldkampioen), Jimmy (nasionale kampioen) en Willie (nasionale- en Statebondkampioen).

Maurice het nooit geboks nie, want hy het as baba polio opgedoen en was sy hele lewe lank in ʼn rolstoel gekluister.

Elke jaar, hier net voor Kersfees, het jy ʼn uitnodiging ontvang om vir Maurice te gaan kuier in sy woonstel in Yeoville. Dan het sy huishulp ʼn smaaklike Libanese ete voortgesit en jou mond het oopgehang oor al die skinderstories in die bokswêreld.

Dis hoe die Toweels was, hulle het hul huise vir jou, en hul boksers, oopgemaak.

Alan was ʼn skaflike bokser, maar net soos Papa Toweel het hy sy stempel eerder as befaamde afrigter van boksers soos Pierre Fourie en Pierre Coetzer afgedruk.

Alan se gimnasium was in Booyens, maar Willie het van die ondergrondse parkeerterrein van die ou Senator-hotel in Joubertpark gebruik gemaak.

Dit was half donker, karige geriewe, half muwwerig met ʼn paar plakkate van bokslegendes teen die mure.

Dis hier waar Willie sy boksers geslyp het, waar hy jou in sy vertroue geneem het, en dis hier wanneer hy jou van die fynere kunsies van boks geleer het.

En o ja, net voordat jy verkas het, het hy altyd afgesluit met: “My gei, kan ek nie ʼn polis aan jou verkoop nie.” En dan het hy gelag. Hy was immers ʼn versekeringsmakelaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.