‘Dié een vir jou Niki,’ sê Hamilton

Lewis Hamilton (Foto: Formula 1/Twitter)

Dit was nou ʼn regte straatgeveg.

Op die ou einde was dit weer ʼn meesterlike vertoning deur Lewis Hamilton (Mercedes) wat Sondagmiddag aan hom die Monaco-Formule Een Grand Prix in Monte Carlo se strate besorg het.

Hamilton (Mercedes) was eerste, gevolg deur Max Verstappen (Red Bull), Sebastian Vettel (Ferrari), Valtteri Bottas (Mercedes), Pierre Gasly (Red Bull) en Carlos Sainz (McLaren).

Verstappen was egter nie op die podium nie, want hy is vyfde geplaas nadat hy met vyf sekondes gestraf is vir ʼn voorval vroeg in die wedren toe hy Bottas se reg van weg versper het nadat albei hul bande tydens ʼn kuipestop omgeruil het.

Dit het daartoe gelei dat Vettel tweede geplaas is, gevolg deur Bottas, Verstappen, Gasly en Sainz.

Hamilton het sy voorsprong bo Bottas tot 17 punte op die kampioenskapspunteleer vergroot en sy oorwinning aan sy mentor en oud-wêreldkampioen, Niki Lauda, opgedra wat verlede naweek oorlede is.

Dit was ʼn ren vol drama, want Verstappen was deurentyd in Hamilton se spieëltjie. Hamilton het feitlik deur die hele ren oor die span-radio oor die toestand van sy bande gekla, maar hy het baie diep gedelf, al sy ervaring ingespan en weer sy uitsonderlike ryvernuf uitgestal.

Hamilton was tot aan die einde baie bekommerd oor sy bande, terwyl die ingenieur, Pete Bonnington, hom kalm probeer hou het en moed bly inpraat het.

In die voorlaaste rondte het Verstappen sy kans gebruik en Hamilton probeer verbysteek. Die twee motors het aanmekaar geraak, maar Hamilton het weer sy neus voor gekry en die geruite vlag ontvang.

Die beamptes het die voorval ondersoek, maar het nie teen enige van die jaers opgetree nie.

“Dit was beslis die taaiste wedren waarin ek nog gejaag het. Ek het aanhou baklei (en aangevuur) deur Niki (Lauda) se vegtersinstink. Hy het so ʼn groot invloed op die span gehad en ek weet dat hy afkyk en sy hoed sal lig. Ek het gefokus gebly om hom trots te maak. Dit was die hele week ons doel en ons mis hom baie,” het Hamilton op die podium gesê.

Bottas se aanslag het vroeg gesneuwel nadat sy motor ʼn lekband opgedoen het. Hy en Verstappen het feitlik terselfdertyd in die kuipe aangedoen om bande te ruil en op pad terug baan toe het dit tot die stamp-voorval met Verstappen gelei.

Bottas kon nooit op sy vierde (later derde) posisie verbeter nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Judge Dredd ·

Monaco wedren is gewen met die wegtrek – daarna 78 rondtes van agter mekaar ry.

koos ·

Net jammer dat die strawwe nie konsekwent is nie. Een jaer stamp ‘n ander ligweg van agter op die “veiligheid” van die baan en kry 10 sekondes boete, ‘n ander word onveilig uit sy kuipe vrygestel, stamp ‘n kar en kompeteer, en dit alles met mense in die kuipe en kry 5 sekondes boete. Die FIA moet ernstig hierna kyk. Ja ek is ‘n Bottas ondersteuner, maar is hier heel neutaal. My hart bloei ook vir LeClerc. Sy Ferarri span het hom van baie punte beroof deur swak beplanning en berekeninge.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.