Dié soort rugby in ’n liga van sy eie

Die nasionale league-rugbyspanne poog om ’n krag in wêreldrugby te word. Foto: Rhinos-webblad.

“League-rugby bied jou die geleentheid om jou vaardighede behóórlik uit te stal, daar is nie plek vir wegkruip nie – jy kan nie bekostig om bang te wees om duikslae te mis óf om met die bal te hardloop nie.”

Só sê Esje Esterhuyse, Midstream Ridge Laerskool se rugbyorganiseerder. En die 21-jarige behoort te weet waarvan hy praat: nie net het hy ’n sterk vyftienmanrugby-agtergrond nie, maar hy is ook ’n kranige league-speler wat al onder meer vir die nasionale studentespan teen Australië en Engeland gespeel het.

Van die grootste verskille tussen “gewone” rugby en league is die punteverskil en die skrums. In league-rugby tel ’n drie byvoorbeeld vier punte en die skrums is staties van aard met net ses spelers in die enjinkamer.

O ja, daar is ook net 13 spelers in league-rugby en die nommer op jou rug is ook effens anders.

“Die klein nommers (1, 2, 3, ensovoorts) is vir die agterspelers, terwyl die groter nommers vir die voorspelers uitgedeel word. Dit bied dus ’n uitstekende geleentheid vir ’n stut om ’n nommerdertientrui te dra!” sê Esterhuyse.

“Ek dink league is sonder twyfel die taaier boetie van vyftienmanrugby. Jy benodig baie meer vaardighede en jou werksverdeling hang nie noodwendig van die nommer op jou rug af nie. Jy moet vang, die bal uitgee, kan hardloop en duikslae uitoefen.”

Volgens Esterhuyse is Suid-Afrika tans 37ste op die wêreldranglys en ’n mens moet in ag neem dat dié sportsoort nie so gewild hier as in ander lande is nie – in Australië is dit amper een van hul hoofsportsoorte.

Op die vyftienmanveld het hy vir die o. 20-Pumas (waaronder as kaptein) en die Blou Bulle se Akademiespan uitgedraf; hy kén dus sy rugby.

Esje Esterhuyse. Foto: verskaf.

“Ek speel al rugby vir 16 jaar en dit is byna soos ’n tweede taal wat ek kan praat sonder om te dink. Maar ek moet bieg dat league my gunsteling is, bloot omdat ’n mens daar meer vryheid het om jou stempel behoorlik af te druk.”

Tog glo hy dat hy steeds sy stempel op provinsiale vyftienmanrugby kan afdruk.

“As die geleentheid my te beurt val om vyftienmanrugby te speel, sal ek dit beslis met albei hande aangryp. Ek het nog altyd gedroom om professioneel te speel en ’n droom is dikwels al wat jy nodig het om jou die nodige dryfkrag te gee.

“Tog gaan sukses op die rugbyveld vir my nie noodwendig om die Groen-en-goud te dra nie, maar eerder hoe jy jou op die veld gedra. Gemene spel is nie nodig nie – as jy gesonde en mooi rugby speel vir jouself, die span en die toeskouers, dan is jy ’n suksesvolle speler.”

Esterhuyse glo dat Suid-Afrika binnekort saam met die groot honde in die league-opset kan hardloop.

“Ons beskik oor baie goeie spelers wat beslis ’n verskil kan maak. Ons moet net iewers begin, maar ons beweeg in die regte rigting – oor ’n paar jaar kan ons beslis op professionele vlak meeding.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

bollie ·

Was mos die Rhinos. Voorheen ook al probeer om van die grond af te kom maar klaaglik misluk.

Lydia ·

Sonder geld en ondersteuning en ondersteuners…en ook blootstelling op die media is dit bitter moeilik om spelers te behou en die sport van die grond af te kry.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.