Dit word deur talle fietsryers as die moordendste bergfietswedren ter wêreld beskryf en dit is werklik taaier as jou oupa se bakkie op die plaas.
Die Absa Cape Epic begin op 17 Maart by die Universiteit van Kaapstad en bykans 700 stofbesmeerde kilometers wag op die deelnemers. As daar nou een wedren is wat jou melkbaardjie in ’n klipharde stoppelbaard verander, dan is dit die Epic.
Verlede jaar se wedren is deur Jaroslav Kulhavy van die Tsjeggiese Republiek en Howard Grotts van die VSA se gewen.
Kulhavy is ’n voormalige Olimpiese kampioen terwyl Grotts al derde by die o. 23-Wêreldkampioenskap klaargemaak het.
Onder die plaaslike deelnemers is daar ’n hele paar bekendes. Die Springboklosskakel Joel Stransky het al hard met die Kaapse grond kennis gemaak, terwyl Jan Braai, Shaun Bartlett, John Smit, Mark Fish en Vanessa Haywood ook al die wedren aangepak het.
Die Epic is dié bergfietswedren wat in die meeste lande op TV uitgesaai word.
- Datum: 17-24 Maart
- Skofte:
Voorskof: 21 km met 600 m se klim
Skof I: 112 km met 2 700 m se klim
Skof II: 86 km met 2 250 m se klim
Skof III: 103 km met 2 800 m se klim
Skof IV: 43 km met 1 000 m se klim
Skof V: 100 km met 2 850 m se klim
Skof VI: 89 km met 2 650 m se klim
Skof VII: 70 km met 1 800 m se klim