Dís wat in die Bokke se Kerskous moet wees

Graeme Pollock – ‘n voorbeeld vir die Springbokke (Foto St Georges Park history)

Daar is seker dinge wat nie gekoop kan word nie, soos om ʼn jong Graeme Pollock in aksie te gesien het.

Dit was donkiejare gelede, net ná Kersfees op Nuweland in Kaapstad waar Suid-Afrika in die tweede toets van die reeks van 1966/’67 teen Australië gespeel het.

Dit was my eerste kriekettoets wat ek bygewoon het en ons het op die graswal net langs die ou telbord gesit – kosmandjie gepak met toebroodjies, gekookte eiers en oorstaanvleis van Kersfees.

Nadat Suid-Afrika die eerste toets gewen het, het die Aussies die hef in die hand gekry nadat hulle 542 lopies in hul eerste beurt aangeteken het.

Suid-Afrika het op die derde oggend op 56/3 voortgekolf, met Pollock onoorwonne op 28. Eddie Barlow was uit, so ook Trevor Goddard en Ali Bacher. Tiger Lange en Denis Lindsay het kort hierna gevolg en op 85/5 was daar geen lig in die tonnel nie.

Boonop het die noodlot verder toegeslaan, want Pollock het sy linker dyspier verrek toe hy ʼn lopie wou waag. Sy beweging was beperk, en hy het gesukkel om sy linkervoet by die bal te kry; hy kon nie strek nie, en kon nie enkellopies waag nie. Maar hy het ʼn skitterende 209 lopies aangeteken. Hy het gehaak (hy was deur sy loopbaan nie daarvoor bekend nie), gekap, gedryf en getrek en die Aussies eindeloos gefrustreer.

Hy is met kort balle deur Graham McKenzie en Dave Renneburg gepeper. Hy is ʼn hele paar keer raakgeboul, maar hy het vasgebyt en nie die ander wang gedraai nie.

Suid-Afrika het 353 lopies aangeteken, waarvan Pollock 59,1% bygedra het.

Toe hy uit is, het die Aussies kringetjie gemaak en hande geklap. Brombere soos Bobby Simpson, Bill Lawry, Keith Stackpole, Ian Chappell, McKenzie en Renneburg het erkenning gegee, want hulle het ook ʼn kolfbeurt van heldemoed beleef wat hulle eendag aan hul kinders en kleinkinders kon oorvertel.

Dit bring my by die Springbokspan uit.

Is dit nie wat die afgelope paar jaar ontbreek het nie? Spelers wat eienaarskap neem, kan opstaan wanneer die span platgeslaan is, wat bly voortveg en nie gaan lê nie? Ja, die groot probleem het by die afrigtingspan begin: by Allister Coetzee. Maar hoeveel Springbokke het werklik na vore getree, ware leiding gegee en die stang onder moeilike omstandighede vasgebyt soos Graeme Pollock destyds?

Dis een van die Kerswense op my lysie: dat die trots in die Springbokspan herstel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vonkie van der Dool ·

Nee wat jy gaan lank wag vir die wens om vervul te word. In die professionele era is dit hoofsaaklik geld wat voorskryf. Die trots om vir jou land te speel, bestaan niie eintlik meer nie. Om deesdae vir jou land te speel is om maar net vir nog ‘n span te speel. Dink maar aan Jan Serfontein, wat homself nie beskikbaar gestel het om vir SA in Europa te speel nie. Hy wou hom eerder by sy klubspan inburger. Nou as dit dan so groot eer en trots is om vir SA te speel, dan sal hy mos elke geleentheid aangryp om vir sy land te speel, duidelik was dit nie vir hom so nie. So is dit maar met die meeste ander speler en ek neem hulle nie kwalik nie. As jou klubspan beter na jou en jou gesin omsien as jou nasionale span, waarom dan vir hulle speel?

willie ·

Vasbyt? Nee wat dr Kwota het klaar hulle tande getrek! Selfs die beste swart speler van formaat voel is nie ñ trotse speler nie, want hy word beskou as ñ kwota speler!

Niklaas ·

Die Springbokke se goue dae is verby. Die kwota beleid sal nog strawwer toegepas word. Ondergemiddelde plaaslike spelers sal voortaan die groen en goud dra , terwyl meer as n honderd talentvolle spelers in die buiteland hul loopbane voortsit. Die kwessie van beplande 50 % en meer nie blankes teen die volgende wereldbeker in Bok span is nie n baie wyse besluit nie. Bokke sal verswak tot Bafana bafana se vlak. Bok toekoms lyk maar donker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.