Dis weer Hamilton op ʼn drafstap

Mercedes se Lewis Hamilton vier Sondag sy 97ste loopbaanoorwinning. (Foto: Gabriel Bouys/AFP)

Dit gebeur nie aldag dat die Formule Een-televisiekommentators uitasem raak nie.

Wel, Sondagmiddag op Portimao het hulle baie min gehad om oor opgewonde te raak toe Lewis Hamilton (Mercedes) die Portugese Grand Prix gewen het.

Max Verstappen (Red Bull) was tweede, Valtteri Bottas (Mercedes) derde, Sergio Perez (Red Bull) vierde, Lando Norris (McLaren) vyfde en Charles Leclerc (Ferrari) sesde.

Was dit nie dat die veiligheidsmotor reeds in die tweede ronde ontplooi is nadat die twee Alfa Romeo’s gebots het nie, was daar bra min opwinding.

Nog opwinding was toe Perez vir Nikita Mazepin redelik naby die einde van die ren van agter af ingehaal en hom verbygesteek het.

Mazepin, wat laaste geëindig het, wou Perez nie laat verbykom nie en hy is later met vyf sekondes gestraf… al was hy laaste.

Vir die rekord: Dit was Hamilton se 97ste loopbaanoorwinning.

En, o ja. Verstappen is twee rondes voor die einde vinnig kuipe toe om bande om te ruil en het sodoende die bonuspunt vir die vinnigste ronde te verower.

Hy het dit reggekry, maar dit is later weer van hom weggeneem en terug aan Bottas besorg omdat die Nederlander die perke vir hoe wyd hy om die draai kan gaan, oortree het.

Vervelig? Ja, maar dit is die aard van motorrenne.

Die volgende ren, die Spaanse Grand Prix, vind volgende Sondag in Barcelona plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anton ·

Hamilton het in een rondte van amper een sekonde agter Bottas, hom ingehaal en verby gegaan. Dit was toe dat ek die laaste keer die gemors gekyk het

koos10 ·

Die 2 Alfas het nie mekaar afgeskryf nie. Kimi het die linker agterwiel van sy spanmaat gestamp en st voorste vlerk verloor.

Megan Swart ·

Dagsê koos10
Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.