Dis weer tyd vir Formule Een

Lewis Hamilton. Foto: AP Photo/Eduardo Verdugo

Die jaar is al byna drie maande oud en uiteindelik kan Formule Een-entoesiaste die oë en ore spits vir hul gunstelingsport se doen en late.

Kom ons noem egter dadelik dat daar agter die skerms hard geoefen, getoets en aangepas is om die motors pasgemaak te kry vir die 2018-seisoen. (Al het baie van die spanne maar min gesê of gedoen wat aan ander spanne hul geheime sou kon weggee).

Die nuwe eienaars van Formule Een, Liberty Media, het weggedoen met die mooi meisies op die wegspringrooster, maar goeie nuus is dat daar 360 grade-kameras op al die motors sal wees.

Die eerste wedren in vanjaar se Grand Prix-reeks word op Sondag 25 Maart in Melbourne gejaag en die laaste ronde sal eers op 25 November in Abu Dhabi afgehandel word. Daar is vanjaar 21 wedrenne in die seisoen. Elke motor sal beperk wees tot net drie masjiene vir die hele seisoen.

Lewis Hamilton (Mercedes) sal poog om reeds vroeg sy merk by die Australiese Grand Prix te maak wanneer hy met sy aanslag begin om vir ʼn vyfde keer die titel in te palm. Sy grootste teenstander behoort Sebastian Vettel in sy Ferrari te wees. Hamilton het reeds twee keer in Melbourne eerste oor die wenstreep gejaag (2008 en 2015). Sy nuwe kontrak met Mercedes sal hom sowat R650 miljoen ʼn jaar in die sak bring. Vettel het ook reeds twee keer koning gekraai in Australië.

Sebastian Vettel. Foto: AP Photo/Andre Penner

Hamilton asook Vettel kan vanjaar hul vyfde wêreldtitels inpalm en daarmee die legendariese Juan Manuel Fangio ewenaar. Net Michael Schumacher spog met meer titels, naamlik sewe.

Valtteri Bottas sal sy sokkies moet optrek as spanmaat van Hamilton. Bottas het nie verlede jaar ʼn baie goeie jaar beleef nie, gegewe die dominansie van Hamilton in dieselfde motor. Niks sal egter die Mercedes-span meer genot verskaf as die eerste én tweede plekke in Melbourne nie.

Die plaaslike renjaer van Red Bull, Daniel Ricciardo, en die Nederlander Max Verstappen kan ook vanjaar hulle stemme dik maak.

Daar is vanjaar 10 spanne wat ingeskryf is.

MERCEDES
Lewis Hamilton
Valtteri Bottas

FERRARI
Sebastian Vettel
Kimi Raikkonen

RED BULL
Daniel Ricciardo
Max Verstappen

FORCE INDIA
Sergio Perez
Esteban Ocon

WILLIAMS
Lance Stroll
Sergey Sirotkin

RENAULT
Nico Hulkenberg
Carlos Sainz

TORO ROSSO
Pierre Gasly
Brendon Hartley

HAAS
Romain Grosjean
Kevin Magnussen

MCLAREN
Fernando Alonso
Stoffel Vandoorne

SAUBER
Marcus Ericsson
Charles Leclerc

Verlede jaar het die finale punteleer het só gelyk:

PosRenjaerSpanPte
1Lewis HamiltonMercedes GP363
2Sebastian VettelFerrari317
3Valtteri BottasMercedes GP305
4Kimi RaikkonenFerrari205
5Daniel RicciardoRed Bull200
6Max VerstappenRed Bull168
7Sergio PerezForce India100
8Esteban OconForce India87
9Carlos SainzRenault54
10Nico HulkenbergRenault43
11Felipe MassaWilliams43
12Lance StrollWilliams40
13Romain GrosjeanHaas F128
14Kevin MagnussenHaas F119
15Fernando AlonsoMcLaren17
16Stoffel VandoorneMcLaren13
17Jolyon PalmerRenault8
18Pascal WehrleinSauber-Ferrari5
19Daniil KvyatScuderia Toro Rosso5
20Marcus EricssonSauber-Ferrari0
21Pierre GaslyScuderia Toro Rosso0
22Antonio GiovinazziHaas F10
23Brendon HartleyScuderia Toro Rosso0
24Jenson ButtonMcLaren0
25Paul di RestaWilliams0

Vir meer inligting, besoek Formula1.com.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gaap ·

Schumi het sewe, nie agt nie. Die karre lyk ook almal soos vissie-plakkies hierdie jaar met daai ‘halo’ om die kajuit.

Vraagteken ·

Julle het duidelik nie die eerste toetse gevolg nie. Red bull lyk baie sterker as Ferrari.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.