Dit reën sesse in Grenada

Engeland se Jos Buttler het 150 lopies geslaan. Foto: Cricinfo.

Ses-en-veertig! Dít is hoeveel sesse Engeland en Wes-Indië se eendagkrieketspanne Woensdag in Grenada gemoker het.

Die Britte het eerste gekolf en te danke aan pragbeurte deur hul kaptein, Eoin Morgan, en paaltjiewagter, Jos Buttler, vir die vierde keer meer as 400 lopies in ’n beurt aangeteken.

Morgan het ’n skaflike 103 van 86 aflewerings geslaan, maar dit was Buttler wat vir die vuurwerke gesorg het.

Die 28-jarige Somerset-speler het 150 lopies van net 77 balle getimmer; sy beurt het 12 sesse ingesluit en hy het ʼn vennootskap van 204 lopies met Morgan geniet.

Ná 50 boulbeurte het Engeland – wat tans deur baie bestempel word as die mees opwindende eendagkrieketspan in wêreldkrieket – ’n reusagtige 418/6 opgestapel.

Die tuisspan moes die tweede grootste lopiejaagtog in die geskiedenis van eendagkrieket op tou sit om die wedstryd te wen en een van hul kolwers moes vir ’n adrenalieninspuiting gesorg het. En wie is ’n groter aksieheld as Chris Gayle?

Die 39-jarige openingskolwer het die horlosie teruggedraai en het soos die kolwer van ouds gelyk met sy pragbeurt van 162 van 97 balle.

Chris Gayle het ook die langsteel ingelê. Foto: Cricinfo.Gre

Hy het 14 tamaaie sesse geslaan en sy vennootskap van 176 lopies saam met Dwayne Bravo (61) het die Windies in die wedstryd gehou.

In drie kolfbeurte tot dusver in die reeks het Gayle 347 lopies teen ’n gemiddeld van 115.66 geslaan.

Goeie boulwerk deur Mark Wood (4/60) en Adil Rashid (5-85) het egter gesorg dat paaltjies op die regte tye geval het en die Engelse het met 29 lopies geseëvier.

Wes-Indië is almal uit in die 49ste boulbeurt vir 389.

  • AB de Villiers hou die rekord vir die vinnigste 150-tal in eendagkrieket toe hy gedurende die 2015-wêreldbeker in Nieu-Seeland teen die einste eilandmanne 162 van 66 aflewerings geslaan het. Vroeër in daardie jaar het hy ook die vinnigste honderdtal (31 balle) op die Wanderers teen dieselfde teenstanders gemoker.
  • So van De Villiers gepraat, sy T20-kontrak met Middlesex is intussen bevestig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.