Djokovic vry na Australiese Ope

Argieffoto van Novak Djokovic. Foto: Twitter.

Novak Djokovic wil bitter graag in aanstaande jaar se Australiese Ope-tennistoernooi speel.

Die 35-jarige Serwiese tennisster sal egter met die nuwe Aussie regering moet “onderhandel” om tot die land toegelaat te word. Hy is vanjaar verbied omdat hy nie teen Covid-19 ingeënt is nie.

Intussen sal spelers van Rusland en Belarus volgende jaar welkom wees om na Melbourne te reis vir die jaar se eerste Grand Slam-toernooi.

Hulle sal egter as neutrale atlete moet deelneem en mag in niks betrokke raak wat hulle met hul geboortelande verbind nie.

Volgens Craig Tiley, organiseerder van die toernooi, het hy onlangs heelwat tyd saam met Djokovic deurgebring en die Serwiër is baie gretig om in Januarie weer in Melbourne te speel.

Djokovic is ’n negemalige Australiese Ope-kampioen.

Tiley het Woensdag aan The Age gesê Djokovic kan die Arbeidersparty van eerste minister Anthony Albanese versoek om sy visumverbod op te hef.

Djokovic is vroeër vanjaar uit Australië geskop en vir ’n tydperk van drie jaar verbied om die land binne te kom.

Australië se federale regering kan egter enige visumverbod ophef sou hulle só ’n versoek ontvang.

“Ek het by die onlangse Laverbeker-toernooi in Londen lank met Novak gesels en hy wil bitter graag weer in Australië speel.

“Hy besef egter hy sal die regering moet vra om sy visumverbod op te hef. Ek weet nie wanneer en of hy dit gaan doen nie,” het Tiley gesê.

Australië se gewese minister van binnelandse sake, Karen Andrews, het in reaksie gesê Djokovic kan nie spesiale behandeling kry nie.

“Daar kan nie een stel reëls vir hom wees en ’n ander stel vir die res van die mense wat na Australië wil kom nie. Dit sal ’n klap in die gesig van daardie mense wees,” het Andrews gesê.

Wat die deelname van spelers van Rusland en Belarus betref het Tiley gesê hulle sal welkom wees indien hulle as neutrale atlete meeding en niks doen wat hul verwantskap met hul geboortelande in die kollig plaas nie.

Tiley en sy reëlingskomitee het hulle dit ten doel gestel om ’n miljoen toeskouers na aanstaande jaar se toernooi te lok.

Die rekord staan tans op 820 000 toeskouers, maar Tiley sê vroeë kaartjieverkope dui op groter belangstelling as in die verlede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Treurwilger ·

As Novak hulle tog maar eerder in hulle maai wou stuur, maar hy wil met reg graag nog “Slams” probeer wen.
Karen Andrews se kleingeestige voortsetting van die skandalige behandeling van ‘n negemalige kampioen asof hy ‘n krimineel is, kan as haatdraend beskryf word.

Andrew ·

wat maak n Ausie dan in die buiteland vir sport as hulle so bang is om die virus in te bring, of moet hulle spelers 6 dae in kwarentyn bly voor hulle weer in Aus mag terug gaan. Duidelik nog nie besef die entings werk nie, keer nie covid se versprei nie en dat die meeste van die wereld “herd immunitity” al bereik het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.