Donker wolk oor gewoonlik vrolike Australiese Ope

‘n Ondersteuner van Novak Djokovic betoog buite ‘n immigrasie-aanhoudingsentrum in Melbourne waar die tenniskampioen aangehou word. Foto: Con Cronis/AFP)

Die vinnig verspreidende Omikron-variant, Serena Williams en Roger Federer se afwesigheid en nou die debakel om Novak Djokovic se toelating tot die land, dreig om die Australiese Ope te ontneem van sy titel as die “Happy Slam”.

Die toernooi begin oor minder as twee weke, maar daar was Vrydag ʼn dreigement van nóg chaos met die moontlikheid dat ander spelers hul nou in dieselfde bootjie as die wêreld se voorste manstennisspeler bevind.

Die entstof-skeptiese Djokovic, die Australiese Ope se verdedigende kampioen, is met sy aankoms in Australië die afgelope week aangehou en sy visum gekanselleer nadat hy versuim het om aan streng koronavirusbepalings te voldoen.

Die 34-jarige Serwiër word nou in ʼn Melbourne-immigrasiefasiliteit aangehou terwyl hy teen sy deportasie baklei.

Twee ander spelers of personeellede wat ook die Ope sou bywoon, word boonop nou ook ondersoek, het Karen Andrews, die land se minister van binnelandse sake, gesê.

Tennis Australië, wat die eerste Grand Slam van die jaar organiseer, is in die sop oor sy rol in die debakel nadat die organisasie deel was van die proses wat gehelp het dat Djokovic mediese vrystelling kon kry.

ʼn Aanlyn meningstuk deur die openbare uitsaaier ABC lui dat die Ope in “chaos is, met onsekerheid oor waarskynlik die grootste trekpleister aan die manskant en die besluitneming van die organiseerders en die regering onder noukeurige ondersoek”.

Groot sterre makeer

Serena Williams. (Foto: Charles Krupa/AP)

Die Australiese Ope staan ook as die “Happy Slam” bekend danksy die perfekte weer, groot skares en partytjieatmosfeer by Melbourne Park, geleë langs die Yarrarivier.

Maar soos met alle groot sportbyeenkomste sedert die koronavirus laat in 2019 in China kop uitgesteek het, het die pandemie opnuut aan die deur kom klop.

Covid-19 het verlede jaar se toernooi ook in die weegskaal geplaas en toe dit eindelik drie weke laat begin, is toeskouers in die middel van die toernooi verbied toe die owerhede ʼn skielike inperkingstyd in die staat Victoria ingestel het.

Vanjaar was – weens die ontwikkeling van entstowwe – veronderstel om anders te wees, maar Omikron het kop uitgesteek en infeksiesyfers in Australië en elders styg vinnig.

Selfs as Djokovic, wat sy 21ste Grand Slam-titel jaag, wél kan deelneem, gaan die toernooi sonder verskeie ander tennissterre moet voortgaan.

Federer, wat ook 20 Grand Slam-titels het, sal nie deelneem nie omdat hy sukkel om van ʼn kniebesering te herstel. Ook afwesig is die Amerikaner Williams, wat haar werklas bestuur.

Japan se Naomi Osaka ná haar oorwinning in die Australiese Ope. (Foto: David Gray / AFP)

Rafael Nadal neem deel, maar was onlangs “baie siek” weens Covid-19 en daar sal maar gesien moet word of hy op sy verwoestende beste gaan wees.

Die afwesigheid van sommige van tennis se groot name kan dalk ʼn gulde geleentheid wees vir sommige ander mans om uit die skaduwee van die sogenaamde Groot Drie – Djokovic, Federer en Nadal – te tree.

Daniil Medvedev is die wêreld se tweede beste en hy sien ʼn kans om nog ʼn titel agter sy naam te skryf.

“Ek dink as hy nie daar is nie, is dit minus een ou wat 20 Slams het – en dit is báie,” het die Rus van Djokovic gesê.

Medvedev, wat tot in die voorste posisie sal skuif as Djokovic nie kan deelneem nie, sê dis geen geheim dat dit ʼn gaping gaan skep nie.

En hoewel Williams ook nie op die toneel is nie, sal verdedigende kampioen Naomi Osaka terugkeer na ʼn vrywillige rustydperk ter wille van haar geestesgesondheid. Osaka sê sy is vasbeslote om haarself te geniet en dat dit heerlik is om terug te wees in Australië.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

krodedil ·

Tyd het aangebreuk dat spelers en publiek die Aussie Ope “Boikot”.

Johnny ·

Breek met die Ope en handhaaf dan die breuk totdat die Aussies ophou om so ‘n “nanny” staat te wees.

Tubac ·

Ek sal eerder die politieke gemors in sport, by ons BOIKOT. Ek meng my nie in in ander lande se reels nie. Dit is nou tipies om eie gebreke te wil vermy en andere, die sondebok te maak.

Grens ·

Dit is hulle reels, val in daai by of gaan terug waar jy vandaan kom.

Ben ·

Wie se reëls? In hierdie geval wil dit voorkom asof Tennis Australië, die Staat van Victoria and die Australiese regering verskillende interpretasies gebruik het. Dit is defnitief nie ‘n goeie advertensie vir Australië nie.

Tubac ·

Victoria weet goed wat die reels is. Hulle is glad nie so onskuldig nie.

VaalDonkie ·

Nou ja toe. Hoop maar jy is so eerbaar wanneer jy aan die ontvangkant is.

Tubac ·

As jy die SPEL speel dan gaan jy beslis nie aan die ontvangkant wees nie. Ek wonder hoeveel van die wat so gal braak. het al daar onder gaan kuier en deur hulle stelsel gegaan sonder enige probleme Voldoen net aan wat hulle van jou vewag,

Dirk Mostert ·

“Nadal was onlangs ernstig siek” Aangesien alle spelers behalwe Djokovic geent is, was Nadal ernstig siek met Covid-19 voor of na sy enting(s)?

Johnny ·

Jy vra mos nou ‘n ongemaklike vraag hier. Ongemaklik vir die pro-spuiters.

piet ·

Glad nie ongemaklik nie, hy was nie ernstig siek nie. Sensasionele media twak.

piet ·

Ongelukkig gaan jou voortydige lekkerkry nie water hou nie want hy was nie “ernstig” siek nie. Ek lees nerens dat hy “ernstig” siek was nie. In sy eie woorde aan die pers: “I am experiencing some unpleasant moments”. Hy was die heeltyd by die huis in self-isolasie. Weet nie waar die sensasie vandaan kom dat hy kamma ernstig siek was nie. Probeer maar weer.

Tanja ·

Aag Osaka kan maar by die huis bly en in ń hoekie sit, haar tennis wil ek nie sien nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.