Aiden Markram, Hashim Amla en JP Duminy is terug in die Protea-groep vir die laaste twee wedstryde teen Sri Lanka. Met die reeks reeds in die sakkie kan spelers in ʼn Wêreldbekerjaar ’n kans kry om hul eendagstaal te wys.
En as daar iemand is wie se huidige spelpeil sy insluiting in ’n groep regverdig, dan is dit Markram. Die Titans-kolwer is tans so te sê onstuitbaar in die plaaslike eendagreeks vir die Pretorianers.
Hiervan getuig skitterbeurte van 169 (toe die Titans kniediep in die moeilikheid was), 143 en 85 (van slegs 43 aflewerings).
Die 24-jarige Centurion-boorling was die eerste Suid-Afrikaanse kaptein om ’n Wêreldbeker-trofee omhoog te hou, toe sy o. 19 Proteas in 2014 met die louere weggestap het.
Dan is Duminy ook weer terug in die tuig. Die Kapenaar het onlangs sy terugkeer gemaak nadat ’n besering hom lank op die kantlyn gehou het.
Indien Duminy Wêreldbeker toe gaan, sal dit deur en deur op reputasie wees. Hy het in 192 eendagwedstryde 5 .016 lopies vir die Proteas teen ’n gemiddeld van 37 geslaan. Op 34-jarige ouderdom is hy egter glad nie meer die wonderkind wat Australië in 2008 verniel het nie.
Die sukkelende Amla is ook nadergetrek.
Hy het wel in die begin van die jaar ’n onoorwonne honderdtal teen Pakistan geslaan, maar sy laaste tien kolfbeurte – wat toetse ook insluit lees soos volg: 10, 0, 32, 3, 16, 14, 59, 25, 8, 108*.
Hy het egter steeds ’n gemiddeld van 49 en handhaaf ’n treftempo van by die 90 lopies per 100 aflewerings. Klas ís inderdaad permanent, terwyl spelpeil tydelik is.
Maar op amper 36-jarige ouderdom sal hy bitter vinnig sy spelpeil moet terugkry indien hy ’n impak op die Wêreldbeker in Engeland wil maak.
Die vierde eendagwedstryd begin Woensdag op Port Elizabeth.
Protea-groep vir laaste twee wedstryde: Faf du Plessis (kaptein), Hashim Amla, Quinton de Kock, JP Duminy, Imran Tahir, Aiden Markram, David Miller, Lungi Ngidi, Anrich Nortje, Andile Phehlukwayo, Dwaine Pretorius, Kagiso Rabada, Tabraiz Shamsi, Dale Steyn en Rassie van der Dussen.
Oupa Hashim, wys hulle wat ñ oupa nog kan doen.
Ek dink hierdie groep gaan dalk net so Wereldbeker toe. Enigste kopkrapper dalk of Amla of Hendricks moet gaan. Beide nie tans op vorm nie en ideaal gesproke wil mens die speler op vorm kies.