Du Plessis laat sy kolf die praatwerk doen

Faf du Plessis het ’n onoorwonne honderdtal geslaan. Foto: Cricinfo.

Wanneer jy in ’n verhouding is, sê jou wederhelfte gereeld dat woorde haar nie beïndruk nie, maar dade wel. En ná Faf du Plessis se kapteinskap en sy kolwers se spelpeil in die afgelope toetsreeks teen Sri Lanka kwaai onder kritici deurgeloop het, het hy hulle monde op die bes moontlike wyse gesnoer: met ’n praghonderdtal op die Wanderers in die eerste kitskragmeting tussen die twee lande.

Die Proteas het (nogal in wêreldbekerjaar!) die eilandmanne oortuigend met agt paaltjies geklop ná ’n Imran Tahir-geïnspireerde boulaanval die besoekers tot 231 beperk het.

Tahir was meer ekonomies as ’n Safair-vlug met sy boulwerk en hy het in 10 skitterende boulbeurte drie paaltjies laat kantel en slegs 2.6 lopies per beurt afgestaan.

Dan het Lungi Ngidi (3/60) sy terugkeer met drie paaltjies gevier, terwyl Anrich Nortje (1/33) op debuut ook sy eerste paaltjie geneem het.

Maar dit was die swak kolfwerk van die Proteas wat gedurende die toetsreeks onder die vergrootglas was, en toe Reeza Hendricks vroeg deur Vishwa Fernando uitgeknikker is, het dit na dieselfde Protea-brousel net in ’n ander formaat gelyk.

Du Plessis en Quinton de Kock (81) het egter skitterend gekombineer om 136 lopies om die tweede paaltjie aan te teken.

Die Suid-Afrikaanse kaptein was aggressief en het vir Fernando letterlik uit die boulaanval geslaan, terwyl De Kock se beurt van 72 aflewerings aangeteken is.

Met De Kock se vertrek was Rassie van der Dussen (32*) die bestendigheid self om die Protea-wa deur die drif te trek.

Die wenlopies is met 67 balle geslaan en jy kan die span daardie toetsfiasko vergewe, maar jy kan nog nie heeltemal van hulle swak vertoning in wit klere vergeet nie.

Du Plessis verdien egter lof vir die wyse waarop hy onder kwaai druk presteer het. Sy kolf het letterlik die praatwerk gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lol ·

Veels geluk met wen. Eendag krieket is sirkus. Jou ware standaard word gemeet aan toetskrieket.

JohanL ·

Welgedaan Proteas – ons hou die volgende wedstryde dop om te kyk wie lig sy hand op.

Rassie het weer gewys dat hy die keurders met moeilike besluite laat – alhoewel mens sou kon redeneer dit is mos maklik om te sien hy moet WB toe gaan !

Die finale keuse op veelsydige speler(s) kan interessant raak.

Gister se wedstryd was goed in die sin dat die wen baie goed was – ‘n afrigter wil hy sy span moet ‘n slag slaan met ‘n wen waar jy die ander span goed opvoeter – wat die Proteas gister gedoen het. Maar nou sou ek nogal graag wou sien hoe sekere van die veelsydige aanspraakmakers vertoon – veral dalk onder druk.

Karl ·

Dis SL manne, tuis, dié word verwag. Die WB jaar, die choking gaan amper amper begin!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.