Duminy maak sy terugkeer

JP Duminy maak sy terugkeer tot die krieketveld. Foto: Facebook.

In ’n kort tydperk waartydens die Proteas hulle die eerste tuisnederlaag teen ’n span vanuit Asië op die hals gehaal het én Duanne Olivier (die Suid-Afrikaners se sterspeler in die afgelope twee toetsreekse) ’n Kolpak-kontrak met Yorkshire onderteken het, is ondersteuners desperaat vir ’n bietjie goeie nuus.

’n Silwer randjie aan ’n baie dreigende onweerswolk is dat JP Duminy vandag sy terugkeer tot mededingende krieket maak. Die 34-jarige Protea was te wyte aan ’n skouerbesering die afgelope vyf maande op die krukkelys.

Hy sal vandag die Cape Cobras in ’n eendagwedstryd teen die Titans aanvoer.

Duminy het in 2008 die verbeelding van die krieketwêreld aangegryp met sy praghonderdtal teen Australië wat ’n leeueaandeel gehad het in Graeme Smith en kie se geskiedkundige reekssege Doer Onder.

Sedertdien kon min kolfbeurte kers vashou by daardie 166 lopies in Melbourne, maar hy bly steeds ’n belangrike skakel in die Proteas se eendagplanne.

Ander nasionale spelers wat vir die Titans/Cobras-kragmeting oorweeg kan word, is Aiden Markram, Janneman Malan, Dane Paterson, Dane Piedt, Farhaan Behardien, Junior Dala, Theunis de Bruyn, Heinrich Klaasen, Dean Elgar, Heino Kuhn en Chris Morris.

Cape Cobras: Hashim Amla, David Bedingham, Tladi Bokako, Rory Kleinveldt, George Linde, Janneman Malan, JP Duminy (kaptein), Pieter Malan, Aviwe Mgijima, Akhona Mnyaka, Dane Paterson, Dane Piedt, Kyle Verreynne.

Titans: Farhaan Behardien, Gregory Mahlokwana, Imraan Manack, Junior Dala, Theunis de Bruyn, Tony de Zorzi, Heinrich Klaasen (kaptein), Dean Elgar, Heino Kuhn, Aiden Markram, Tshepo Moreki, Chris Morris, Jonathan Vandiar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

J ·

Solank ons hom uit die WC kan hou! Steyn is ook verroes en te oud om enigens n bedryging te wees in die WC, maar hy gaan bly vasklou tot hy 38 is.

Henk ·

Duminy maak sy terugkeer ? My hemel , was hy dan weg gewees ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.