Dyantyi op senter teen Sharks

Die Lions se Aphiwe Dyantyi begin op senter teen die Sharks. Foto: Facebook.

Toe die Lions ’n paar naweke gelede teen die Bulls op Emirates Airline Park verloor het, het baie gedink die skrif is aan die muur vir die Johannesburgers.

’n Vierde agtereenvolgende eindstryd het soos ’n mirage in die woestyn gelyk: ’n lekker vooruitsig, maar uiteindelik net ’n droom.

Druk die versnelknoppe na die sewende ronde van die reeks en die Lions is die voorste Suid-Afrikaanse span in die toernooi en algeheel derde op die gesamentlike punteleer.

Dan het hulle ook hul driedruk-woema teruggekry. In ses kragmetings het hulle 25 drieë gedruk. Net die Crusaders (29) het meer drieë gedruk, terwyl die Nieu-Seelandse franchise ook ’n wedstryd meer gespeel het.

Vir Vrydag se Sharks-stryd het afrigter Swys de Bruin ’n sterk lostrio tot sy beskikking – selfs sonder die diens van die beseerde Warren Whiteley en Kwagga Smith.

Cyle Brink is terug op seweflank ná sewe maande op die kantlyn te danke aan ’n kniebesering wat hy by ’n Springbok-oefenkamp opgedoen het. Hy is saam met Ruan Vermaak en Marnus Schoeman die lostrio.

Nóg ’n interessante skuif is die Bokvleuel, Aphiwe Dyantyi, wat op buitesenter gaan uitdraf, met Lionel Mapoe sy sentermaat.

Die oudleerder van HTS Middelburg en Springbok-heelagter, Boeboes Coetzee, trek die naweek die nommervyftientrui aan, met Tyrone Green wat na regtervleuel skuif.

  • Afskoptyd is Vrydagaand om 19:10.

Lions: Andries Coetzee, Tyrone Green, Aphiwe Dyantyi, Lionel Mapoe, Cortnall Skosan, Elton Jantjies, Ross Cronjé, Ruan Vermaak, Cyle Brink, Marnus Schoeman, Marvin Orie, Rhyno Herbst, Carlu Sadie, Malcolm Marx (kaptein), Sti Sithole. Plaasvervangers: Jan-Henning Campher, Nathan McBeth, Frans van Wyk, Wilhelm van der Sluys, Stephan Lewies, Nic Groom, Hacjivah Dayimani, Sylvian Mahuza/Wandisile Simelani.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Swartwolf ·

Hoop hy bring kreatiwiteit in die posisie tot op bok vlak hemel weet bokke kan nie aangaan met die Ellende nie hy word al hoe stadiger en een dimensioneel en sy verdediging is vrot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.