Een miljoen neem in SA aan Parkrun deel

Bruce Fordyce en sy Suid-Afrikaanse Parkun-span verdien ’n klop op sy skouer. Foto: Facebook.

Kyk, Bruce Fordyce het rede om trots te wees.

Dié Comrades-legende en sy Parkrun-span verdien ’n stewige klop op die skouer vir hul moeite en puik organisasiewerk. Skaars sewe jaar gelede was daar net 26 deelnemers by Suid-Afrika se heel eerste Parkrun. Vandag is daar 180 Parkrun-venues en een miljoen geregistreerde deelnemers.

“Ons het altyd geweet die Parkrun sal ’n sukses hier wees,” het Fordyce aan Maroela Media gesê. “Maar nie een van ons sou ooit kon dink dat dit só groot sou word nie.”

Om die statistiek in perspektief te plaas: Ellispark kan byna 60 000 toeskouers vir ’n Springboktoets huisves; op ’n goeie Saterdag is daar óók ongeveer 60 000 Parkrun-deelnemers wat landwyd by die verskillende venues die bloedsomloop aan die gang kry.

Fordyce was op sy dag ’n Comrades-meester. Hy het egter laas in 2012 gehardloop en sal vanjaar weer net ’n toeskouer wees. Foto: Facebook.

Die enigste verskil is dat die Parkrun 55 keer per jaar aangebied word, want daar word ekstra wedlope vir Kersfees en Nuwejaar geskeduleer.

“Ons beoog om 60 nuwe Parkruns elke jaar in Suid-Afrika te open. Die publiek se behoefte aan dié gratis vyfkilometerwedlope is enorm, en ons kan wel binnekort twee tot drie nuwe venues elke Saterdag begin.”

Fordyce het op sy dag agt agtereenvolgende Comrades-marathons gewen, maar tog sê hy van die Parkruns is ook ’n tawwe uitdaging.

“Veral 1000 Hills in Botha’s Hill (Durban) is moeilik. Terselfdertyd is daar talle pragtige roetes, waaronder Cannibal’s Hill in die Drakensberge, Springbok, Loxton (in die hartjie van die Karoo), Walvisbaai, Aggeneys… die lys hou net aan. Melkbosstrand en Big Bay het asemrowende uitsigte van Tafelberg.”

En moet ook nie dink dat die 63-jarige Fordyce met die jare stadiger word nie. Sy vinnigste tyd by ’n Parkrun is 18:26 minute wat hy in Londen opgestel het.

Die Parkrun word elke Saterdag aangebied en is gratis. Vir meer inligting oor die venues, besoek www.parkrun.co.za.

  • Jenna Challenor is die vinnigste vrou oor vyf kilometer met ’n tyd van 16:35 minute.
  • Amos Nyongo is die vinnigste man. Hy het die afstand in ’n tyd van 14:02 min afgeblits.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Ek en Arnold Geerdts moes met Bruce ‘n onderhoud voer vir TV Nuus. Arnold het besluit dit sal goed lyk as ons hom kry waar hy besig is om te oefen, effens natgesweet en uitasem. Nadat ons hom 25 keer teen die heuwel by die Brixton toring laat uithardloop het…..het ons hom met water nat gespuit en gevra hy moet uitasem “fake”………want ons kon hom nie moeg of aan die sweet kry nie!!! Goeie ou dae….

Neef ·

parkrun het ‘n aandeel gehad daarin dat ek my lewe “omgedraai” het. Nou omtrent 130 parkuns later is ek steeds verslaaf daaraan. Dis so goeie inisiatief en wys jou wat gedoen kan word sonder wins bejag.
Net ‘n nota, parkun word met ‘n kleinletter gespel, dit is hoe die organisasie dit wil hê. Kyk maar ook op hulle web tuiste.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.