Els en Van Vuuren is die nuwe hakers

Corniel Els. Foto: Bulls-webblad.

Met Akker van der Merwe en Schalk Brits wat vir hul vuisgeveg verlede week in Durban deur Sanzaar geskors is, moes die Bulls en Sharks noodgedwonge nuwe hakers vir die naweek se wedstryde kies.

Van der Merwe – wat die aggressor in die bokssessie in die Haaitenk was – is vir drie weke geskors, terwyl Brits hom ’n skorsing van vier weke op die hals gehaal het.

Die 24-jarige Kerron van Vuuren draf nou Vrydagaand vir die Durbaniete teen die Lions op Emirates Airline Park in Johannesburg uit. Dié oudleerling van Glenwood staan 1,88 m in sy sokkies en weeg 107 kg.

Hy is net so lank as sy Lions-eweknie, Malcolm Marx, maar hy is sewe kilogram ligter as die Johannesburgse kaptein en Springbok-haker.

Dan het die Bulls vir Corniel Els gekies om Brits se ervare hakerskoene vol te staan.

Els was op Grey Kollege in die skool en het vir die o. 20-Springbokke uitgedraf. Die Jaguares – teen wie die Bulls vroeër in die reeks verloor het – sal sonder twyfel ’n vuurdoop en ’n half vir die jong haker wees.

Die Sharks en die Lions pak mekaar Vrydagaand om 19:10 in Johannesburg, terwyl die Bulls Saterdagmiddag om 15:05 vir die Jaguares op Loftus Versfeld wag.

Bulls: Divan Rossouw (heelagter), Johnny Kotze (regtervleuel), Dylan Sage (buitesenter), Burger Odendaal (binnesenter),  Jade Stighling (linkervleuel), Manie Libbok (losskakel),  Embrose Papier (skrumskakel), Duane Vermeulen (kaptein en agtsteman), Jannes Kirsten (flank), Ruan Steenkamp (flank), Eli Snyman (slot), Hanro Liebenberg (slot), Trevor Nyakane (stut), Corniel Els (haker), Lizo Gqoboka (stut). Plaasvervangers: Jaco Visagie, Simphiwe Matanzima, Conraad van Vuuren, Thembelani Bholi, Tim Agaba, Ivan van Zyl, JT Jackson, Cornal Hendricks.

Kerron van Vuuren. Foto: Sharks-webblad.

Sharks: Curwin Bosch (heelagter), Lwazi Mvovo (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter), André Esterhuizen (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Robert du Preez (losskakel),  Louis Schreuder (kaptein en skrumskakel),  Daniel du Preez (agtsteman), Jacques Vermeulen (flank),  Luke Stringer (flank),  Hyron Andrews (slot),  Ruben van Heerden (slot),  Coenie Oosthuizen (stut),  Kerron van Vuuren (haker), Tendai Mtawarira (stut). Plaasvervangers: Fez Mbatha, Juan Schoeman, Thomas du Toit, JJ van der Mescht, Philip van der Walt, Grant Williams, Kobus van Wyk, Aphelele Fassi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.