Engelse speel kat en muis met Wallabies

Engeland se Freddie Steward tekkel Australiê se vleuel, Tom Wright. (Foto: Adrian Dennis / AFP)

Die Engelse rugbyafrigter, Eddie Jones, verskuif al jare lank die doelpale met sy spelpatrone en vreemde spankeuses, asook deur met sy teenstanders se koppe in die week voor ʼn toetswedstryd te smokkel.

Saterdag op Twickenham het dit vrugte afgewerp toe Engeland die Wallabies met 32-15 geklop het nadat die Rose rustyd met 16-12 voorgeloop het.

Maar met die Springbokke wat komende week op Jones-hulle wag, sal die Engelse hul kaarte uiters goed moet skommel, want die Bokke sal nie maklik van stryk gebring word nie.

Inteendeel, tensy daar iets onvoorsiens gebeur, behoort die Bokke, wat nou weer bo Nieu-Seeland op Wêreldrugby se ranglys in die eerste posisie opgeskuif het, die Engelse treurmare in die Wêreldbekereindstryd van 2019 te herhaal toe hulle die Engelse (met ʼn meer ervare en beter span) in die eindstryd opgefrommel het.

Die Engelse het Saterdag die powere Wallabies se planne deurmekaargekrap deur die onervare Marcus Smith (losskakel) en die klipharde Owen Farrell (binnesenter) gereeld posisies te laat omruil. So ook is Manu Tuilagi (vleuel) gereeld binnetoe geskuif om bresse in die Wallabies se middelveld te slaan.

Maar sal die Engelse ook daarmee teen die Bokke volhard, wat met hul opskietverdediging en hoë hang- en lugskoppe die teenstanders verfomfaai?

Boonop is Farrell met ʼn besering van die veld en sal hy dalk nie teen die Springbokke kan speel nie.

Dan sal die Engelse ook binne ʼn week moet leer om hul man behoorlik in die skrums te staan, anders gaan hulle uitmekaarspat.

Dit sal sekerlik nie nodig wees vir Jones om die skrumafrigter, Matthew Proudfoot (hy was die Bokke se skrumdokter by die WB-toernooi in Japan), daaraan te herinner hoe die Engelse kaartehuis ineengetuimel het nie.

Die 21-jarige loskopstut Bevan Rodd is op die nippertjie teen die Wallabies ingespan nadat eers Joe Marler en toe ook Ellis Genge positief vir Covid-19 getoets het.

Marler en Genge sal heel waarskynlik ook nie teen die Bokke speel nie en streepsuiker wag op die jong Rodd met die Bokke wat twee bielie-voorrye in wedstryde gebruik.

Afgesien van Covid-19-probleme is Farrell, Jamie George (haker) en Kyle Sinclair (vaskop) ook in die toets teen die Wallabies beseer. Jones sal baie diep moet delf om die Bokke te probeer ontspoor.

Soos ek hom ken, gaan hy die week sy mond oor die Bokke hou, want hy is slim en ervare genoeg om te besef daar kan net een verloorder wees.

Punte: Engeland 32 (16): Drieë: Freddie Steward, Jamie Blamire. Doelskoppe: Owen Farrell, Marcus Smith. Strafdoele: Farrell (5), Smith.

Australië: 15 (12): Strafdoele: James O’Connor (5).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
MakersMark

Mooi england. Ses uit ses teen die arrogante Aussies.

Pieter9

Het die Wallabies lanklaas so swak sien speel; en dit is wat my pla van die Bokke… Hoe is dit dat hulle ons so gereeld wen? Dit moet ‘n kopding wees.

Anton

Enjoy it while it lasts :-)

Snowball

Farrell wil beseer wees voor volgende week. Hy kry nog berading vir sy angsaanvalle na die vorige Wêreldbeker….