Federer nié vanjaar by Australiese Ope in aksie

Roger Federer. (Foto: William West/AFP)

Roger Federer, die tennisspeler wat reeds 20 Grand Slam-titels ingeoes het, sal die Australiese Ope vir die eerste keer in sy loopbaan misloop terwyl hy herstel na twee knieoperasies, het die organiseerders Maandag gesê.

Die 39-jarige Switser is sedert Februarie buite aksie maar het onlangs weer begin oefen en was op die lys vir die jaar se openings-Grand Slam wat ʼn vertraagde begin op 8 Februarie het.

Federer, ʼn groot gunsteling onder die Melbourne-skare, het sedert sy debuut in 2000 nog nie ʼn Australiese Ope misgeloop nie en het die trofee al ses keer huis toe geneem.

“Uiteindelik het Roger te min tyd gehad om homself gereed te kry vir die uitdaging van ʼn Grand Slam en hy is baie teleurgesteld dat hy nie in 2021 na Melbourne kom nie, het die toernooihoof, Craig Tiley, gesê.

“Ons wens hom alles van die beste toe terwyl hy voorberei vir sy terugkeer later in die jaar en is opgewonde om hom weer in 2022 in Melbourne te sien.”

Federer het die meeste van die 2020-seisoen – wat boonop deur die Covid-19-pandemie ontwrig is – misgeloop nadat hy in Januarie, toe hy sy laaste mededingende wedstryd gespeel het, teen Novak Djokovic in die halfeindstryde verloor het.

Hy het in Februarie ʼn operasie aan sy regterknie ondergaan en moes daarna ook ʼn opvolgoperasie ondergaan. Hy het daarna sy seisoen opgeskort om te herstel.

Die Switser kon maar net toekyk hoe Rafael Nadal sy rekord van 20 Grand Slam-titels met ʼn 13de oorwinning by die Franse Ope ewenaar.

Federer sal nou daarop konsentreer om voor te berei vir die res van die 2021-seisoen. Dit sluit in die Olimpiese Spele in Tokio en die kans op sy eerste goue medalje in die enkelspel.

“Hy het die afgelope paar maande goeie vordering met sy knie en sy fiksheid getoon,” het Tony Godsick, sy agent, in ʼn verklaring gesê.

“Ek sal vandeesweek begin met beraadslaging oor toernooie wat laat in Februarie begin en dan ʼn skedule vir die res van die jaar begin saamstel.”

Federer se afwesigheid sal beslis by die Australiese Ope gevoel word, ten spyte van spelers soos Djokovic en Ashleigh Barty wat deelneem.

Die Amerikaanse superster Serena Williams, op 39 Federer se tydgenoot, is ook op die lys terwyl sy probeer om Margaret Court se rekord van 24 Grand Slam-enkeltitels te ewenaar.

Federer se onttrekking kom nadat die voormalige wêreld- no. 1-speler, Andy Murray, wat vyf keer ʼn finalis in die Australiese Ope was, ʼn uitnodiging gekry het om te speel.

Tiley het die 33-jarige Murray se terugkeer na die toernooi verwelkom, twee jaar nadat hy in die eerste ronde uitgeskakel is en vrese ontstaan het dat sy loopbaan geëindig het.

“Om te sien hoe hy terugkeer, nadat hy ʼn ernstige operasie ondergaan het en homself reggeruk het om weer aan die toernooi deel te neem, sal ʼn hoogtepunt wees,” het Tiley gesê.

Die openings-Grand Slam van die jaar, wat voor sowat 50% van die gewone skare gespeel gaan word, is met drie weke uitgestel tot 8 Februarie weens uitdagings wat deur die pandemie veroorsaak is.

Die kwalifseringswedstryde vir mans en vroue word onderskeidelik in Doha en Dubai van 10 tot 13 Januarie gespeel en spelers sal van 15 Januarie op spesiale huurvlugte in Melbourne begin aankom.

Melbourne was maande lank in afsondering ná ʼn tweede vlaag van Covid-19.

Australië het die pandemie nou grootliks in bedwang gebring, hoewel ʼn nuwe uitbreking in Sydney vrese oor hernieude beperkings in die stad en selfs die sluiting van grense met buurstate veroorsaak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.