Fietsry, eet, speel, huiswerk, slaap, herhaal vir 7-jarige

Mason saam met die SA Padfietskampioen, Daryl Impey. Foto: Verskaf.

Mason Hunter…

Dit klink net soos ’n fietsryer se naam, nie waar nie? En as jy na sy drome luister, is dié sewejarige hard op pad om eendag ’n geelbaadjiedraer in eie reg te wees.

Buiten die feit dat hy omtrent daagliks op sy eie stilstaande oefenfiets by die huis trap en naweke saam sy pa die buitelug (tot so ver as 20 km op ’n slag) aandurf én gereeld die fietsryhoogtepunte en -wedrenne op die kassie volg, is daar nóg iets wat in sy guns as fietsryer tel: Hy deel selfs sy verjaardag met die Tour de France-kampioen Chris Froome!

“Ag, ek kry maar tyd om te oefen as ek nie te veel huiswerk het nie. Dit is soms regtig moeilik om aandag aan jou fietsry te gee terwyl jy in die dag moet werk!” sê hy Maandagmiddag met ’n reuseglimlag.

“Ek is mal oor fietsry want jy kan soveel toertjies op jou ysterperd doen, terwyl dit vir my baie lekker is om buite in die natuur saam my pa te wees.”

Mason op sy fiets na nog ’n lekker oefensessie. Foto: verskaf.

Daryl Impey, die huidige Suid-Afrikaanse padfietskampioen, is saam met Froome sy groot helde. En Mason was Sondag blitsig langs Impey om hom geluk te wens nie nét met sy Suid-Afrikaanse oorwinning nie, maar ook met sy puik prestasie in die Tour Down Under.

“Ek het sommer terselfdertyd ook die handtekening van Ryan Gibbons en Nick Dlamini gekry – dit het beslis my naweek gemaak!”

Hoewel hy nog op bergfietsritte konsentreer – hy is gereeld by Red Barn in Pretoria te siene – wil hy teen Desembermaand begin padfiets ry.

“Ek wil baie graag eendag ’n professionele fietsryer word en die geelbaadjie vir my span by die Tour de France dra.”

Toe hy daaraan herinner word dat een van fietsry se voordele die mooi meisies is wat jou op die wang soen wanneer jy wen, het hy net geïrriteerd grond toe gekyk: Duidelik staan hulle nog in die pad van sy geel baadjie.

Hy skrik ook nie sommer vir ’n moeiliker bergfietsroete nie. Hy trap net oor en deur die hindernisse, en wanner die bult te steil raak, klim hy net af en dra sy fiets tot bo.

“Ek het al baie kere geval, maar dan staan ek net op en ry weer verder. Ek dink dit is belangrik in die lewe,” sê hy met verstommende wysheid vir ’n sewejarige.

Kinders se drome verander deurentyd. Maar die fietsrysaadjie is beslis in klein Mason se kop geplant. Die volgende Impey is reeds aan’t oefen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

E. ·

Waarom nie eerder/ook noem hy deel sy naam met Suid-Afrika se heel eerste wenner van ‘n skof in die Tour de France?!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.