Fietsryers, vlugbalspelers ook op Afrika-podium

Suid-Afrika se vlugbalspelers het ook vir ’n medalje gesorg. (Foto: X/Team SA)

Teen Vrydagoggend het Suid-Afrika 81 medaljes by die Afrika-spele in Ghana ingeoes nadat sy fietsryers en vlugbalspelers tot die medaljepartytjie bygedra het.

Die fietstrapspan van Haylee Preen, Sonica Klopper, Annike Visser en Lucy Young het die silwer medalje in die o. 23-tydtoets vir elite fietsryers losgetrap.

Die mansgroep van Brandon Downes, Blaine Kieck, Dillon Geary en Daniyel Matthews het ook met ʼn stewige vertoning vorendag gekom om silwer in hul tydtoets te smaak.

Dan het Danilo von Ludwiger en Leo Williams vir die derde silwer medalje van die dag in die vlugbalarena gesorg toe hulle teen Mohammed Abicha en Soufiane el Gharouti van Marokko in die goue medalje tweestryd verloor het.

Suid-Afrika is ongetwyfeld op koers om op sy medaljevertoning van 2019 te verbeter. Die span het destyds 86 medaljes in Marokko ingeoes.

Vanjaar het net die swemspan reeds vir 46 medaljes gesorg.

Dit is die agtste keer dat Suid-Afrika sedert hertoelating in 1995 aan die Afrika-Spele deelneem. Die aksie duur tot 23 Maart in Akkra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.