Fiks, fikser, Visser

AJ Visser. Foto: verskaf.

AJ Visser klap sy kalkbesmeerde hande teen mekaar sodat die stof letterlik trek. Hy stap met mening na die ysterstaaf wat swaar gelaai is met plaatgewigte, en met een gladde beweging lig hy 122 kg bokant sy kop. Nie té sleg vir ’n snatch-beweging nie.

Die 33-jarige CrossFitter, atleet en eienaar van CrossFit Brackenfell, het pas ’n skitterende 11de plek by die Fittest in Cape Town-kompetisie losgeslaan. En hoewel hyself erken dat hy een van die “ouer manne” by dié kompetisie was, was hy net drie plekke agter Suid-Afrika se CrossFit Spele-held, Jason Smith.

“Fittest in Cape Town was vir my ’n goeie kompetisie. Daar was wel hier en daar ’n paar items waarin ek beter kon gedoen het, maar in die geheel is ek tevrede met my vertoning.”

“Ek was nou al ’n paar keer na die CrossFit-streekskompetisies (regionals) toe – waar ons teen die beste manne ter wêreld kompeteer – maar dit was hierdie keer spesiaal om hulle op tuisbodem aan te vat.”

Dié kompetisies is basies die trappie net vóór die Spele . Om dáár deel te neem, is reeds ’n reuseprestasie. En Visser was al drie keer daar in aksie.

Van ’n onbekende sportsoort so ʼn paar jaar gelede is CrossFit deesdae een van die gewildste fiksheidstydverdrywe ter wêreld. In Suid-Afrika staan die fikses hoegenaamd nie terug vir hul internasionale teenstanders nie.

“Dit is ’n sportsoort wat ongelooflike groei in Suid-Afrika toon. Die hoeveelheid mense wat dit nou as ’n fiksheidsroetine gebruik het in die afgelope drie jaar bykans verdubbel.”

Die CrossFit Ope is om die draai (dit begin op 21 Februarie) en soos talle CrossFitters reg oor die wêreld, kan Visser nie vir dié wêreldwye kompetisie wag nie.

“Dit is ’n wonderlike tyd van die jaar vir die héle CrossFit-gemeenskap. Dit is een van die min sportsoorte waar meer as 500 000 deelnemers dieselfde ding vir vyf weke sáám aanpak – maak nie saak of jy in Pretoria of Pittsburgh is nie.”

As afrigter bevestig hy die feit dat enigiemand aan die Ope kan deelneem, maak nie saak of jy laas in 2004 ’n optrek gedoen het nie.

Van die gimnastiekbewegings is die moeilikste om aan te leer. Foto: verskaf.

“Dit verskil weliswaar van atleet tot atleet, maar ek sou sê om die moeiliker gimnastiekbewegings (soos om op jou hande te loop ensovoorts) onder die knie te kry, neem normaalweg die langste om aan te leer.”

Maar hoe leer jy iemand om ’n “muscle-up” – basies ’n kombinasie van ’n optrek en ’n opstoot – te doen?

“Met moeite!” skerts hy.

“Die nommer-een-reël vir iemand wat wil leer en regtig wil presteer, is om na raad te luister én dit te aanvaar. CrossFit is ’n sport wat jou voete vierkantig op die grond hou. Neem dus jou tyd, neem dinge stap vir stap en luister na jou afrigters!”

Soos enige atleet streef hy daarna om beter te wees. En nes Smith wil hy ook Suid-Afrika by die Spele in Wisconsin verteenwoordig.

Visser was elfde in die Kaap. Foto: verskaf.

“ ʼn Mens moet altyd mik vir die beste. As jy op dié vlak wil kompeteer, maar nie vir die Spele mik nie, dan klop jou hart nie warm genoeg vir CrossFit nie.”

En totdat hy sy kaartjie na die Spele bespreek sal die kalk in Brackenfell bly trek.

• Van sy statistiek:
Back squat: 186 kg
Front squat: 164 kg
Overhead squat: 152 kg
Snatch: 122 kg
Clean: 153 kg
Deadlift: 247 kg

• Sy gunsteling WOD-sessies:
1. Nancy en Amanda – twee oefensessies wat die CrossFitters “Girl WODs” noem.

• Uitslae van die Fittest in Cape Town:

Mans:
1. Sean Sweeney
2. Cole Sager
3. James Newbury
4. Streat Hoerner
8. Jason Smith
11. AJ Visser

Vroue:
1. Katrin Davidsdottir
2. Mia Akerlund
3. Alessandro Pichelli
4. Courtney Haley
5. Michelle Merand (SA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ansa Hart ·

Baie dankie vir die deel van hierdie onderhoud met AJ Visser. Ek is baie trots op hierdie seun van my. Hy geniet sy Crossfit en sit absoluut sy ALLES in met voorbereiding, oefen en ook vir ‘n kompetisie. Hierdie moederhart swel van trots!

ANA ·

?SJOE…WELGEDAAN ? dit wil gedoen word!!
BAIE GELUK AAN JOU SEUN EN AAN JOU OOK,MA!?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.