Formule Een: Verstappen eindig op hoë noot

Max Verstappen (Foto: HAMAD I MOHAMMED / POOL / AFP)

Daar is altyd ʼn eerste in sport… ook in Formule Een-motorrenne.

Max Verstappen (Red Bull) het voor Sondag se F1-Grand Prix in Abu Dhabi nog nooit vir ʼn enkele rondte in dié woestynstad voorgeloop nie.

Sondag op die Yas Marina-baan het hy eerste weggespring en nooit teruggekyk nie, want hy het enduit voor gejaag om sy tweede oorwinning in vanjaar se reeks te behaal en die tiende van sy loopbaan.

Verstappen is gevolg deur die twee Mercedes-motors, dié van Valtteri Bottas en Lewis Hamilton.

Hulle is gevolg deur Alexander Albon (Red Bull), Lando Norris (McLaren) en Carlos Sainz (McLaren).

Hamilton, wat verlede week se aandren in Bahrein misgeloop het omdat hy in afsondering was vanweë Covid-19, kon weinig impak maak.

Hamilton (347 punte) is reeds ʼn hele paar weke gelede as wêreldkampioen gekroon en sy puntevoorsprong bo Bottas (223) is die grootste ooit in F1-renne.

Verstappen, wie se pa Jos ook ʼn gewese F1-jaer was, het derde (214 punte) op die puntelys geëindig.

Sondag se ren was straks die verveligste van die seisoen, want afgesien van Sergio Perez se Racing Point-motor wat in die 12de rondte langs die baan gaan staan het vanweë kragleweringprobleme, was daar bitter min aksie.

Nogtans sal teruggekyk word op ʼn jaar wat byna gekelder is toe die eerste ren in Maart in Melbourne, Australië, vanweë die Covid-19-pandemie afgelas is.

Die seisoen is eers in Julie in Oostenryk hervat en het uit 17 renne in 12 verskillende lande bestaan.

Oor 96 dae vind aanstaande jaar se eerste ren plaas en hopelik sal dinge na normaal terugkeer met 23 renne, want motorsport sonder toeskouers is soos kerrie sonder rys, spek sonder eiers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
koos10

Wel gedaan Max.
Wat ek wel van die “vervelige” ren kon aflei is dat die Mercs ook kwesbaar is, en dat Lewis se kar, anders as Valtri se kar voorberei word. Sien, die Mercs was op hulle laaste enjin en moes met vermindere krag ry, en dit wys vir my dat beide die karre dieselfde opgestel was, en Lewis kon nie aan Valdri raak nie, daarom my gevolg trekking dat Lewis se kar anders en met meer krag opgestel word.