Gaan dit ’n Nadal/Djokovic-finaal wees?

Rafael Nadal wag reeds in die naweek se manseindstryd. Foto: Facebook.

Die tafel is gedek vir ’n moontlike Rafael Nadal/Novak Djokovic-eindstryd in die Australiese Ope ná die 31-jarige Nadal vir Stefanos Tsitsipas in die halfeindstryd ore aangesit het.

Nadal het die 14de gekeurde Tsitsipas se Ope-sprokie beëindig deur in skoonstelle(6–2, 6–4 en 6–0) te wen. Die Griekse ster het onder andere met Roger Federer en Roberto Bautista Agut klaargespeel.

Nadal sal volgende teen die wenner van die Novak Djokovic/Lucas Pouille-halfeindstryd te staan kom. Djokovic het gemaklik na die halfeindstryd deurgedring ná Japan se Kei Nishikori weens ’n besering die aftog in die kwarteindstryd geblaas het.

Djokovic was egter reeds op koers na ’n gemaklike sege en het 6–1, 4–1 voorgeloop voor Nishikori die handdoek ingegooi het.

In die vrouefinaal meet Naomi Osaka en Petra Kvitova kragte. Hoewel nie een van die spelers al ’n Aussie-titel het nie, het Kvitova reeds twee keer met die Wimbledon-louere weggestap. Osaka is egter die Karolina Pliskova-temmer.

Pliskova het vroeër vir Serena Williams op dramatiese wyse uitgeskakel toe die Amerikaner in die derde stel ’n reusevoorsprong weggesmyt het.

Williams het 5–1 in die finale en beslissende stel voorgeloop, maar het kop verloor toe Pliskova begin wenners slaan het. Sy het uiteindelik 6–4, 4–6 en 5–7 verloor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.