Gaan Hansen die Britse en Ierse Leeus vir hul SA safari brei?

Steve Hansen. Foto: Facebook.

Een van wêreldrugby se suksesvolste afrigters nog, Nieu-Seeland se Steve Hansen, kan moontlik die Britse en Ierse Leeus in 2021 vir hul Suid-Afrikaanse toer afrig.

Die 59-jarige Hansen spog met ’n rekord van 85 seges in 96 toetse, terwyl hy die All Blacks na hul tweede agtereenvolgende Wêreldbekertitel in 2015 gebrei het.

Volgens die gesaghebbende The Times, is Hansen saam met Engeland se Eddie Jones, Ierland se Joe Schmidt en Wallis se Warren Gatland geïdentifiseer om die Leeus vir hul Suid-Afrikaanse safari af te rig.

Hansen was vir agt jaar sir Graham Henry se assistent vóór hy in 2012 die leisels by hom oorgeneem het. Sy kontrak met die All Blacks verstryk ná vanjaar se Wêreldbeker-skouspel in Japan.

“Ek het wel nog nie gedink wat ek ná die Wêreldbeker gaan doen nie. Dit is so ’n groot voorreg om die All Blacks af te rig en ek konsentreer tans net op die volgende paar maande.

“Ons het ’n ongelooflike geleentheid om iets te doen wat geen ander land nog kon vermag nie – en dit is om die Wêreldbeker vir drie agtereenvolgende toernooie te wen,” het hy destyds gesê.

Die Leeus se breier sal na verwagting net voor die begin van die Wêreldbeker aangewys word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.