‘Gewone’ spelers het ook in Dubai geblits

Die SA All Stars-sewesrugbyspan baljaar in Dubai. Foto: Facebook.

Terwyl die Blitsbokke verlede naweek met moeite die woestynsand uit hul rugbystewels moes skud – hulle kon slegs die helfte van hul wedstryde in die openingstoernooi van die HSBC-sewesreeks wen – was daar darem ’n groep Suid-Afrikaners wat hul rugby in Dubai geniet het.

Die SA All Stars Sewesrugbyspan het weliswaar hul beker-kwarteindstryd teen die hoog aangeskrewe Speranza22 verloor (die einste span wat verlede jaar die Blitsbokke se Akademiespan getroef het), maar die geleentheid wat die spelers gekry het om skouers met van die wêreld se beste klubsewesspesialiste te skuur, is soos ’n Mastercard-advertensie van ouds: kosteloos.

Die All Stars fokus op die identifisering en ontwikkeling van opkomende sewestalent van reg oor Suid-Afrika en bied wêreldklasgeleenthede met hul deeltydse en voltydse programme. Hulle sal in 2019 na Spanje, Italië, die VSA (Kalifornië en Las Vegas), Lesotho en Duitsland toer.

In Dubai het die senior All Stars onder meer met die nasionale span van die Verenigde Arabiese Emirate (55-12) en Australië se Sheraad Assassins (27-12) afgereken. Dan het die o. 19’s in die eindstryd van die Uitdaagbeker verloor; in hul opmars na die eindstryd het hulle egter met Durban Warriors, Krynos en Tygerberg klaargespeel.

Volgens die senior groep se afrigter, Ludwiche van Deventer, bestaan die span hoofsaaklik uit studente, deurwinterde klubspelers en spelers wat vir hul salarisse moet werk en nie speel nie.

Gerhard Munro lei die span teen die VAE op die Sewesstadion in Dubai uit. Foto: Facebook.

“Ouens soos Jasper Genis (QBR in Pretoria), Gerhard Munro (Middelburg Rugbyklub) en Israel Kalumba (Zambië se internasionale kaptein) het gedurende die toernooi uitgeblink. Wat die manne se poging so besonders maak, is die feit dat ons weens beserings en ander terugslae met slegs nege spanlede getoer het. Dit sal vir enige span ter wêreld ’n monumentale taak wees om konstant teen só ’n hoë tempo teen volsterkte internasionale teenstanders te speel. Tog het ons steeds uitstekend gevaar.”

Die All Stars het verlede jaar derde geëindig en weens die feit dat die toernooi vanjaar verander is, is hulle reeds in die kwarteindronde uitgeskakel.

Die blootstelling wat die spelers egter gekry het, is van onskatbare waarde. Hul openingswedstryd is in die stadion gespeel, terwyl hulle talle van die internasionale kragmetings regstreeks kon geniet.

Indien jy meer wil weet oor die All Stars-inisiatief, kan ’n e-pos na [email protected] gestuur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.