Gholf: Lee Westwood seëvier wéér op Sun City

Louis Oosthuizen. Foto: AP Photo/Chuck Burton

Die grootste gholftoernooi op die Suid-Afrikaanse gholfkalender, die Nedbank-Uitdaging, is Sondag op die Gary Player buiteklub by Sun City afgehandel. Die prysgeld vir die toernooi beloop nagenoeg R110 miljoen. Vanjaar se toernooi is deur Lee Westwood gewen nadat hy op -15 geëindig het.

Westwood het ʼn laaste ronde van 64 gespeel om vir ʼn derde keer die Nedbank-toernooi te wen. Dit was ook sy eerste oorwinning op die Europese toer in meer as vier jaar. Sergio Garcia het 70 houe gespeel en op -12 die tweede plek ingeneem met Louis Oosthuizen derde op -11 na ʼn ronde van 69.

Verlede jaar het Branden Grace die eerste Suid-Afrikaner in tien jaar geword, sedert Trevor Immelman in 2007, om met die louere weg te stap. Vanjaar het hy elfde op -3 geëindig.

Met die aanbreek van die vierde en laaste ronde was die Spanjaard, Sergio Garcia, met twee houe voor.

1 Sergio Garcia -10

2 Louis Oosthuizen -8

3 Mikko Korhonen -7

Thomas Detry -7

Lee Westwood -7

6 Ross Fisher -6

Garcia het op die eerste putjie ʼn brouhou aangeteken terwyl Oosthuizen voëltjies op die 3de en 5de putjies behaal het. Westwood het op sy beurt ʼn arend 3 op die tweede behaal. Na nege putjies het Louis Oosthuizen met een hou voorgeloop. Hy was op -11 met Garcia en Westwood op -10.

Dit was egter Lee Westwood wat net 31 houe op die tweede nege gespeel het om op -15 te eindig wat die wennerstjek ($1 250 000) ingepalm het. Westwood het met drie houe gewen. Garcia het 70 houe gespeel en op -12 die tweede plek ingeneem met Oosthuizen derde op -11 na ʼn ronde van 69.

Op die finale voorlopersbord het bogenoemde drie spelers ʼn groot gaping bo die ander spelers oopgemaak.

1 Lee Westwood -15

2 Sergio Garcia -12

3 Louis Oosthuizen -11

4 Ross Fisher -8

5 Haotong Li -7

Matt Wallace -7

Die laaste toernooi in die wedloop na Dubai begin komende Donderdag in Dubai.

Nog vinligting is beskikbaar by: http://www.nedbankgolfchallenge.com/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.