Gholf: Louis trap (weer) op voorlopers se spoor

Louis Oosthuizen tydens die St. Jude Classic-gholftoernooi in Memphis Tennessee. (Foto: Sam Greenwood / Getty Images / AFP)

Die Amerikaner Harris English (127) is met twee houe voor Abraham Ancer van Mexiko en Cameron Smith van Australië ná die tweede ronde van die St. Jude Classic-gholftoernooi wat in Memphis Tennessee beslis word.

Maar wie blaas in hul nekke? Suid-Afrika se Louis Oosthuizen.

Oosthuizen, wat 64 houe in die tweede ronde aangeteken het, is net vier houe agter en is saam in die sewende posisie op 131.

Oosthuizen het ses voëltjies in die tweede ronde aangeteken nadat hy vier voëltjiesette in die eerste ronde (67 houe) ingerol het.

Hy het tot dusver net op die 13de putjie in die eerste ronde ʼn hou aan baansyfer in dié toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks afgestaan.

Suid-Afrika se Garrick Higgo, wat verlede week nog in Japan saam met Christiaan Bezuidenhout aan die Olimpiese Spele deelgeneem het, is op 138 houe in die 38ste posisie.

* Op St. Andrews in Skotland is Justin Walters van Suid-Afrika net drie houe agter die voorloper, Lucas Bjerregaard van Denemarke, ná die tweede ronde van die Hero-ope.

Walters is saam met die Spanjaard Santiago Tarro op 132 in dié toernooi in die Europese reeks.

Bjerregaard (129) is twee houe voor Callum Hill (Skotland).

* Die Amerikaner Nelly Korda kan ʼn goue medalje in haar trofeekas voeg nadat sy die gholftoernooi vir vroue op die Olimpiese Spele gewen het.

Sy het op 265 houe (-17) geëindig met die Japanse speler Mone Inami en Lydia Ko van Nieu-Seeland (albei 266) saam tweede.

Inami het Ko in die eerste uitspeelputjie om die silwermedalje geklop.

Nelly Korda is eerste op die jongste wêreldranglys, haar ouer suster Jessica is 14de, hul broer Sebastian Korda, is ʼn beroepstennisspeler in die ATP-reeks, terwyl pa Petr die Australiese Ope in sy loopbaan gewen het en op ʼn kol die wêreld se tweede beste tennisspeler op die ranglys was.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.