Agt van SA slaan af by die Amerikaanse Ope

Louis Oosthuizen (Foto: skermskoot uit 2016 video)

Agt Suid-Afrikaners sal Donderdag in die 117de Amerikaanse Ope-gholtoernooi op die Erin Hillsbaan in Wisconsin in 2017 se tweede Major afslaan – en Charl Schwartzel kan dalk die beste van hierdie agt vaar.

Schwartzel is op die oomblik goed op dreef, ondanks sy gewrig wat in Maart beseer is toe ʼn gholfbal hom getref het.

Benewens Schwartzel speel die wenner van die 1994- en 1997-toernooi, Ernie Els en ook Branden Grace, Louis Oosthuizen, Brandon Stone, George Coetzee, Thomas Aiken en Oliver Bekker van Suid-Afrika in die toernooi.

Bekker, Aiken, Coetzee en Stone moes in ʼn kwalifiserende toernooi speel vir een van die net 15 plekke wat nog beskikbaar was.

Benewens Els, wat twee keer sukses geproe het, was Schwartzel in 2015 sewende. Branden Grace was, ook in 2015, gesamentlik vierde en in 2016 was hy gesamentlik vyfde.

Vir Louis Oosthuizen is dit ʼn geval van amper maar nog nie stamper nie. Hy het ook in 2015 goed gevaar. Hy was gesamentlik tweede, net ʼn enkele hou agter die wenner, Jordan Spieth.

Oosthuizen speel tans goeie gholf en het beslis ʼn kans om onder die voorstes klaar te maak en selfs te wen.

Brandon Stone en Oliver Bekker maak hulle buiging in die toernooi.

♦  ʼn Kenmerk van die Erin Hills-baan is dat daar nie bome is nie, maar die lang, dik gras in die ru-veld maak dit feitlik onmoontlik om ʼn bal vandaar uit te speel. Aan die ander kant is die skoonveld wyer as die meeste gholfbane waar Majors gespeel word.

Die eerste van die 156 gholfspelers slaan om 12:45 (SA tyd) van twee bowwe af.

♦  Interessante groeperings om op die eerste twee dae dop te hou is Henrik Stenson, Charl Schwartzel en Louis Oosthuizen (afslaantyd 13:47); Martin Kaymer, Jordan Spieth en Dustin Johnson (8:35);  en Jason Day, Justin Rose en Rory McIlroy (14:09).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.