Al die pad opdraande vir Burmester

Dean Burmester van Suid-Afrika tydens die Dubai Desert Classic in 2020. (Foto: GIUSEPPE CACACE / AFP)

Die bult was Saterdagmiddag ʼn rapsie te steil vir Suid-Afrika se Dean Burmester in die vierde ronde van die Britse Meesters-gholftoernooi wat op The Belfry in Warwickshire beslis is.

Vir die 48-jarige Engelsman Richard Bland was dit egter heelpad afdraande en aanhouer wen.

Bland, wat al jare lank ook in Suid-Afrika se Sonskynreeks speel, het sy eerste toernooi in 478 probeerslae gewen sedert hy in 1996 ʼn beroepspeler geword het. Hy het die Italianer Guido Migliozzi op die eerste uitspeelputjie geklop nadat albei die toernooi op 275 houe, 11 onder die baansyfer, afgesluit het.

Bland is nou die oudste speler wat die Britse Meesters, en ʼn toernooi in die Europese reeks, kon wen.

Burmester, wat reeds vanjaar in die Europese reeks geseëvier het, het 70 houe in die laaste ronde aangeteken en saam met Andy O’Sullivan van Engeland sesde op 277 houe geëindig.

Hulle was net een hou agter David Coupland (Engeland), Mikko Korhonen (Finland) en die Pool Adrian Meronk wat saam derde was op 276.

Justin Harding was 18de op 281 en Louis de Jager het 30ste geëindig op 283.

SA Ope vir vroue

In Kaapstad kon die derde en voorlaaste ronde van die Suid-Afrikaanse Ope vir vroue nie voltooi word nie vanweë die deurdringende reën wat uitgesak het en die sterk wind wat op die Westlake-baan in Kaapstad gewaai het.

Suid-Afrika se Lee-Anne Pace (9de putjie) en die 17-jarige Sloween Mia Pabnik (10de) was skaars terug op die baan toe die sirene Saterdagmiddag vir ʼn tweede keer geloei het om die spelers terug te stuur klubhuis toe. Die spel is toe vir die dag opgeskort.

Pace en Pabnik is albei op +2, gevolg deur nog ʼn Suid-Afrikaner Nicole Garcia (+3).

Byron Nelson Classic

Charl Schwartzel is in Dallas, Texas, net drie houe agter die oornagvoorloper, Sam Burns van Amerika, ná die derde ronde van die Byron Nelson Classic-toernooi wat deel uitmaak van die Amerikaanse PGA-reeks.

Burns is op 196 houe (-20) nadat hy 62 houe in die derde ronde aangeteken het. Hy is een hou voor Kyoung-Hoon Lee van Korea gevolg deur die Amerikaners Matt Kuchar en Jordan Spieth, Alexander Noren (Swede) en Schwartzel, wat almal op 17 houe onder die baansyfer geëindig het.

Schwartzel het rondes van 65, 68 en 66 op sy telkaart ingevul.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SomeOne ·

kort voor lank gaan die baan se speelveld verander word, -20 wys eintlik dat die baan aan die maklike kant is

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.