Amerikaanse gholf: Johnson, Matsuyama kry hul neuse voor

Hideki Matsuyama Saterdag gedurende die derde ronde. (Foto: AP Photo/Charles Rex Arbogast)

Die wêreld se huidige voorste gholfspeler, Dustin Johnson, probeer om sy tweede toernooi binne sewe dae te wen, die Japanner Hideki Matsuyama probeer om die eerste keer in drie jaar weer eerste in ʼn toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks te eindig en Tiger Woods probeer om die eerste keer sedert 2010 ʼn droogte te breek om nie een keer swakker as baansyfer in ʼn toernooi te vaar nie.

Boonop is die Spanjaard Jon Rahm, wat 66 houe aangeteken het, met ʼn hou gestraf nadat hy sy bal op ʼn setperk opgetel het sonder om dit te merk.

Dan het Jason Day (+16) en sy Australiese landgenoot Marc Leishman (+27) bitter min om na uit te sien wanneer Sondagaand (Suid-Afrikaanse tyd) se laaste ronde aanbreek.

Dit vertel die verhaal van die derde ronde van die BMW-kampioenskap wat op Olympia Fields II in Illinois gespeel word.

Johnson en Matsuyama is saam voor op 209, net een hou beter as baansyfer en die enigste twee spelers wat minder as syfer oor die eerste drie rondes gevaar het.

Albei het 69 houe in die derde ronde aangeteken.

Dustin Johnson Saterdag gedurende die derde ronde. (Foto: AP Photo/Charles Rex Arbogast)

Hulle word gevolg deur die onbesonge Kanadees Mackenzie Hughes, Adam Scott van Australië en die Chileen Joaquim Niemann (al drie op 211, een hou swakker as baansyfer).

Die oornagvoorloper Rory McIllroy is saam met Rahm en ʼn rits ander spelers drie houe agter die voorlopers. Suid-Afrika se Louis Oosthuizen is op 215, vyf houe meer as syfer, in die gesamentlike 21ste posisie met Dylan Frittelli is op 216 saam 26ste.

Oosthuizen het twee voëltjies aangeteken, maar ook op ses putjies houe aan syfer afgestaan.

Tot dusver het hy vyf voëltjies in sy rondes van 72 69 en 74 aangeteken, maar ook tien keer houe aan syfer ingeboet.

Die baan stel baie hoë eise aan die spelers. Die setperke is kliphard en vinnig, die ruveld uiters welig en die wind waai: nagmerries vir die wêreld se voorste spelers.

Kyk maar hoe Woods op die 17de opgetree het toe hy die soveelste keer ʼn swak hou gespeel het. Hy het sy stok twee keer hard teen ʼn sementblad gemoker, voortgegaan deur die sethou te mis om drie houe meer as syfer aan te teken.

* Op die Belfry in Warwickshire in die Midde-Weste van Engeland slaan die Suid-Afrikaner Justin Walters Sondag af met ʼn voorsprong van twee houe in die Europese reeks se Britse Kampioenskap.

Walters is op 204 en word gevolg die Fransman Benjamin Hebert en Martin Kaymer van Duitsland (albei op 206).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.