Amerikaanse Meesters: Johnson voor, maar Frittelli vuurwarm

Die Amerikaner Dustin Johnson. (Argieffoto: The Masters)

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen is uit die wedloop, maar Dylan Frittelli is steeds in die pylvak om tussen die topspelers in vanjaar se Amerikaanse Meesters-gholtoernooi op Augusta te eindig.

Die Amerikaner Dustin Johnson (200) slaan Sondagaand (Suid-Afrikaanse tyd) met ʼn voorsprong van vier houe af bo die Koreaan Sungjae Im, die Mexikaan Abraham Ancer en die Aussie Cameron Smith (al drie op 204) met Frittelli op 205 in die vyfde posisie.

Oosthuizen is saam met Charl Schwartzel in die gesamentlike 29ste posisie op 213 met Christiaan Bezuidenhout saam 50ste op 216.

Oosthuizen het 75 houe in die derde ronde aangeteken nadat hy op vyf putjies (insluitende twee houe meer as baansyfer op die 6de) verbrou het. Hy het darem ook drie voëltjies behaal om die bloeding ʼn bietjie te keer.

Johnson, die wêreld se nommereenspeler, het ʼn foutlose 65 houe (sewe onder die baansyfer) in die derde ronde aangeteken en is 16 houe onder syfer. Dit is die laagte telling nog oor 54 putjies.

As Johnson die laaste ronde in minder as 70 houe voltooi, sal hy Tiger Woods en Jordan Spieth se name uit die rekordboeke vee as die spelers met die laagste telling nog in die Meesters.

Die 30-jarige Frittelli, wat in Johannesburg gebore is en grootgeword het, het in 2012 aan die Universiteit van Texas gaan studeer waar sy talent na behore na vore gekom het. Hy is maar 100ste op die wêreldranglys, maar Augusta pas hom soos ʼn handskoen.

Hy het 65 houe in die eerste ronde aangeteken en saam voorgeloop, maar in die tweede ronde teruggesak met ʼn 73. In die derde ronde het hy vyf voëltjies, op die 2de, 8ste, 11de, 13de en 15de putjies, behaal om in Johnson-hulle se nekke te blaas.

 

Voorste tellings ná die derde ronde: -16 D Johnson (VSA); -12 S Im (Kor.), A Ancer (Mex.), C Smith (Aus.); -11 D Frittelli (SA); -10 J Thomas (VSA); -9 S Munoz (Col.), P Reed (VSA), J Rahm (Sp.).

Ander uitgesoekte tellings: -8 R McIlroy (N-Ier.), T Fleetwood (Eng.), B Koepka (VSA); -6 P Casey (Eng.); -5 T Woods (VSA), D Willett (Eng.); -3 Louis Oosthuizen, Charl Schwartzel (albei SA).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.